|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 22:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Ek bespeur die afgelope maand in die dunderm en self in die vetderm van die skape wat ek slag, klein harde knoppies. Wat kan dit wees en wat moet ek my diere mee spuit of doseer ter genesing en voorkoming? By vorige geleenthede het ek weer in die vetderm groen kleurige knoppe gevind. Wat kan dit wees en wat kan ek in so 'n geval spuit of doseer? Ek boer in Namibia in die Mariental omgewing. Dirk van Zyl - diamondfin@iway.na
Knoppieswurm met die wetenskaplike naam Oesophagostomum columbianum is die rondewurmsoort by skape wat by verre die meeste skade aanrig. Indien hierdie wurmsoort op jou plaas voorkom en hulle nie doeltreffend beheer word nie, mag groot vrektes voorkom.
Lewensiklus van knoppieswurm
Volwasse knoppieswurms kom in die dikderm van skape, bokke en sekere wildsoorte voor en is ‘n wit, dikkerige wurm wat met die blote oog waargeneem kan word. Die mannetjie is ongeveer 1,4 cm en die wyfie 2,5 cm in lengte. Wyfies lê ongeveer 3000 tot 5000 eiertjies per dag. Die eiers word deur die mis uitgeskei en beland op die weiding. In warm vogtige toestande broei die eiers uit en ontwikkel binne 7 dae deur drie larfstadiums tot die besmetlike derde larfstadium op die weiding.
As diere wei, word hierdie larfies ingeneem. Hierdie larfies dring die slymvlies van die dunderm en somtyds van die dikderm binne een dag binne. Hierdie larwes krul op en vorm klein siste. Die derde stadium larwes vervel tot die vierde stadium na ongeveer vier dae en verlaat die siste ongeveer 5 tot 6 dae na diere besmet geraak het. ‘n Paar larwes bly in die slymvlies agter vir 1 tot 3 maande en selfs nog langer in ouer diere. Larwes wat die slymvlies van die dikderm binnegedring het, ontwikkel nie tot volwassenes nie.
Larwes wat die holte van die dermkanaal bereik, vervel tot die volwasse stadia ongeveer 26 dae na aanvanklike besmetting. Eiers word ongeveer 40 dae nadat aanvanklike besmetting plaasgevind het in die mis gevind. Volwasse wurms kan tot 21 maande leef, maar die meeste gaan vroeёr dood.
Bg. beskrywing is vir ‘n eerste besmetting. Hierdie besmetting immuniseer die dier teen latere besmettings van knoppieswurms en dan lyk die prentjie gans anders. Die weefselreaksie is hewiger en groter knoppe gevul met witbloedselle word in die dermwand gevorm en die larwes haak in die derde stadium in die dunderm en as vierde stadiums in die dikderm vas. Hierdie larwes word deur die gasheerreaksie gedood voordat hulle na die dermholte kan terugkeer.
Belang van ‘n knoppieswurmbesmetting
Knoppieswurms kom voor in die somerreёnvalstreek van Suid-Afrika en het ‘n geweldige nadelige effek op produksie. Alhoewel die wurms goed onder beheer gebring is met die hoogseffektiewe wurmmiddels is dit ‘n sluimerende reus wat weer kan wakker word.
Kliniese tekens
So min as 200-300 volwasse wurms kan as ‘n swaar besmetting beskou word. ‘n Erge, aanhoudende, stinkende en slymerige diarree word gesien. Die dier kan ook erge pyn vertoon a.g.v. die sogenaamde knoop in die derm en wat die naam “reksiekte” gekry het. Skape kwyn weg, verswak en vrek. Wolproduksie neem af en ‘n breuk in die wol kom voor.
Nadoodse ondersoek
Opvallende etterige knoppies oortrek die derms en derms is selfs aanmekaar vasgegroei. Die kieme Arcanobacterium(Corynebacterium) pyogenes dring die knoppies binne en absesse is wydverspreid in hierdie diere.
Diagnose
Diagnose kan op nadoodse ondersoek gedoen word.
Miseiertellings en miskulture kan gemaak word en die besmetlike derde stadium larwes kan geїdentifiseer word. Onthou dat daar soms rustende larwes in die dermwand is met geen eiers in die mis nie!
Beheer
‘n Opsomming van al die wurmmiddels wat tans beskikbaar is en knoppieswurm beheer, word gevind in antwoord: 2497172 Wurmmiddels vir skape.
Lees ook antwoord Rondewurms en kliniese tekens van inwendige parasiete in herkouers
Onthou voorkoming is beter as genesing!
• Moenie vreemde skape of bokke sonder toetsing op u plaas toelaat nie
• Doseer elke dier wat inkom, deeglik!
• Laat gereeld nagaan of u knoppieswurm op die plaas het
• Gereelde miseiertellings is onontbeerlik
• Doseer indien nodig veral net voor die winter
• Let daarop dat die groep 4 (salisielaniliede) middels nie vir knoppieswurm geregistreer is nie
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartseny konsultant en dr. Jan van Wyk, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit vanPretoria
Bron: Levine, N.D. 1968 Nematode parasites of domestic animals and of man. Burgess publishing company, Minneapolis, Minnesota. ISBN 0-8087-1299-3.
1 Desember 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24