|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 22:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Blaaswurms affekteer die Boerbokke van 'n boer van Jansenville en hy vra raad.
Vraag:
Kan u my asb. raad gee oor blaaswurm (lintwurm)-besmetting. Die blaaswurms affekteer my Boerbokke hier in die Jansenville-distrik. Hoe kan ek die toestand beheer of van hulle ontslae raak? - Francis (Williamson-williamsom@telkomsa.net)
Antwoord:
Ek gee 'n breë antwoord op u vraag om sodoende die belangrikste blaaswurm besmettings by mens en dier in te sluit.
Daar is verskeie lintwurmsoorte (spesies) wat elk in 'n bepaalde gasheer voorkom. Die lintwurms kom gewoonlik in die dunderm voor waar hulle d.m.v. hul koppe (skolekse) wat suiers of selfs hakies bevat, hulself vasheg. Die meeste lintwurms groei van hul nekke af waar die segmente (proglottiede) gevorm word. 'n Lintwurm kan tot 15 meter lank groei.
Lintwurms is tweeslagtig (hermafrodiete) en eiertjies wat onkosfere (larfstadium) bevat word in die segmente gevorm. Ryp segmente breek af en word met die mis uitgeskei. Elke segment bevat ongeveer 40 000 eiers. Lintwurms het geen bek-dele nie en kos word deur die vel opgeneem. Lintwurms kompeteer dus met hul gashere vir voedsel.
Daar is 'n groep (genus) wurms met die naam Taenia.
Mense raak besmet wanner hulle rouerige varkvleis wat masels bevat, eet. Die masel word ingeneem en die kop daarin vrygestel wat dan aan die mens se dunderm vasheg. Die groot gevaar wat hierdie lintwurm vir 'n mens inhou, is dat selfbesmetting kan plaasvind. Deur onhigiënies op te tree, bv. nie hande te was ná ontlasting nie of besmette kos te eet, kan eiertjies ingeneem word. Sekere stamme gebruik lintwurmsegmente as medisyne en dit kan dodelik wees. Hierdie eiertjies kan dan as masels in die mens se brein, oog, spiere en vel ontwikkel. Senusimptome soos epileptiese aanvalle kan voorkom. Ander tekens in die mens is duiseligheid, kopseer en swakheid. Party mense het 'n verlies in eetlus en verloor gewig. Ander tel weer gewig op. Die toestand staan bekend as neurosistiserkose en kan deur radiografie vasgestel word. In erge gevalle kan besmetting tot die dood lei.
Beheermaatreëls
Karnivore het lintwurms van tot 5 meter in hul dunderms. Ryp segmente word uitgeskei en eiers word vrygestel op die weiding. As eiers deur herkouers of varke ingeneem word, word onkosfere (larfstadia) vrygestel wat die dermkanaal deurboor en in die bloedstroom beland. Die onkosfeer beland in die lewer en vir 14 dae boor die organisme deur die lewer sodat bloederige swart bane in die lewer gesien word. Diere kan binne 19 dae vrek. Ná 14 dae verlaat die larfstadium die lewer en ontwikkel tussen die derms in 'n groot blaaswurm (Cysticercus tenuicollis) - selfs so groot soos 'n hoendereier. Elke blaas bevat een lintwurmkop. Die blaaswurms tussen die derms is onskadelik en geen behandeling hoef toegepas te word nie.
Kliniese tekens:
As die blaaswurm in die brein ontwikkel, plaas dit druk op die harsings en dan ontwikkel daar senuweesimptome. Die term Draaisiekte of Malkopsiekte word gebruik omdat diere al in die rondte draai. Die skaap/bok kan blind word, sy kop agteroor hou en sy pote hoog optel en vermaer. Die kop word ook laat sak en dit lyk of hy dronk is. Die kondisie kan vir weke aanhou en eindelik vrek die dier van die honger. In erge besmetting mag diere 15 dae na besmetting vrek. Die blaaswurm is dan so groot soos 'n vuurhoutjiekop. In kroniese gevalle is die diere van balans af, kan met rukke beter word, maar dan weer slegter. Die ontwikkeling van die blaaswurm mag baie stadig geskied en tekens mag eers na 2-7 maande gesien word. Die sist is lewend en die drukking in die kop wissel soos die blaas uitsit en krimp. Tydens erge drukking word die dier blind en kan dan weer sien as die drukking afneem.
Voorkoms:
In 'n ondersoek is gevind dat baie honde in veral die Kaapprovinsie, Karoo en Suidwes-Vrystaat met T. multiceps besmet is. Die wurms is ook in Delmas en Potchefstroom distrikte gevind. Die siekte kom veral voor waar noue kontak tussen honde en kleinvee voorkom, bv waar stoetramme en ooie in klein kampies naby die huis aangehou word.
Slag skape wat kliniese tekens begin toon, aangesien die vleis niks makeer nie. Die larwestadium is nie vir mense besmetlik nie. 'n Mens kan vleis eet waarin daar larwes (blaaswurm) is, solank die vleis goed gaargemaak word. Die eierstadium van die infeksie is egter 'n soönose, d.w.s. dit kan van die dier na die mens oorgedra word. Honde dra die eiertjies na mense oor, want die eiers is klewerig en sit dikwels aan die hond se haarkleed vas. Tekens wat infeksie by mense aantoon , is verlies aan eetlus en gewig, maagkrampe, hoofpyn en duiseligheid. Epilepsie, stuiptrekkings, disoriëntasie en die dood mag intree.
Behandeling:
As die blaaswurm wat op die harsings ontwikkel vergroot, veroorsaak dit druk op die kopbeen, wat dan dunner en sagter word. 'n Spuitnaald kan in die blaas gesteek word om die vog uit tesuig. Diere kan so genees word, indien daar net die een blaas is. Alle voorsorg moet getref word dat karnivore en honde nie van die blase vreet nie, want dan word die lewensiklus voortgesit.
Siste kan ook chirurgies uitgesny word by diere wat besonder waardevol is.
Maatreëls vir voorkoming:
Die lintwurm is baie klein (sowat 6mm lank) en bestaan gewoonlik uit 3 tot 4 segmente . Die laaste segment is vol eiertjies en een segment word uitgeskei per week. As 'n eiertjie deur 'n vatbare gasheer ingeneem word, ontwikkel daar 'n hidatied sist. Die blaas kan baie groot word en bevat selfs kleiner siste met baie lintwurmkoppies. Die blaaswurms kom by herkouers veral in die lewer en longe voor en by mense kan siste in enige orgaan voorkom, maar 3% kom in die brein en rugmurg voor. In 'n opname is bevind dat daar 'n 1% voorkoms van hidatidose in die RSA is. 'n Hoër voorkoms in beeste is in die Oos Kaap en Noord Transvaal gevind. In skape is daar 'n hoër voorkoms in Welkom en Vryburg, terwyl dit by varke voorkom in die Westelike Provinsie en Potgietersrus. Waar diere en honde in noue kontak met mekaar is, sal daar 'n hoër voorkoms van hidatidose wees.
Om 'n diagnose van Echinococcus en Taenia multiceps in honde te maak, word honde 'n purgeermiddel, arekolien hidrobromied, gegee (2mg/kg) met 'n maksimum dosis van 48 mg. Die vloeibare gedeelte van die hond se mis word ondersoek vir eiertjies en lintwurms. Die mis moet daarna verbrand en begrawe word.
Behandeling:
Dit is belangrik om u probleem met die plaaslike veearts te bespreek, aangesien hy op hoogte sal wees van toestande in u omgewing.
Vir draaisiekte word aanbeveel om kleinvee met prasikwantel bv Rid-A-Lint, Intervet G3213 teen 'n dosis van 100mg/kg . Herhaal vir 'n tweede keer 24 uur later. Hierdie behandeling mag dalk nie die gewenste uitwerking hê nie, aangesien die skade in die brein en kopbeen al te groot mag wees.
Voorkoming:
Misondersoeke kan van honde, wat in aanraking kom met kleinvee, gedoen word om vas te stel of hulle Taenia-eiertjies in hul mis het. Honde kan elke 3 maande met 'n middel wat prasikwantel bevat, bv. Triantel M, Intervet G3079, behandel word. Die blaaswurmprobleem mag al groter raak waar karnivore soos jakkalse in getalle toeneem.
Diefstal kan ook 'n rol speel indien kleinvee gekraal moet word en meer honde ingespan word om hulle op te pas.
10 Oktober 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24