|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 22:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
'n Leser wil raad hê oor sy skape en melkbokke wat gereeld groot absesse ontwikkel en ons kundiges help.
Vraag:
Ons boer met skape en melkbokke. Hulle het groot, oop kampe, maar word saans op hok gejaag sodat hulle nie gesteel word nie. Hulle ontwikkel gereeld groot absesse wat uitstaan, veral onder hul bekke, kliere en op hul blaaie. Dit moet dan oopgesny en ontsmet word. Ons het min skapies en ons hoor nooit dat 'n boer met baie skape kla dat hy elke dag 'n skaap met 'n sweer moet behandel nie. - Alba Lamprecht (albalamprecht@yahoo.com)
Antwoord:
Infeksie met die bakterie Corynebacterium pseudotuberculosis, voorheen bekend as Corynebacterium ovis, veroorsaak in skape en bokke in die meeste gevalle kaasagtige limfklierontsteking (een of meer limfkliere ontsteek). Met ander woorde absesse van die limfkliere. In Engels word die siekte "Caseous lymphadenitis (CLA)" genoem.
Soms kan die infeksie lei tot longonsteking, lewerontsteking, mastitis, gewrigsontsteking, ontsteking van die testes, absesse onder die vel, aborsies, doodgebore lammers en vrektes net na geboorte. 'n Sindroom kom ook voor waar rooibloedselle opbreek en geelsug in skape en bokke ontstaan. Bokke is besonder vatbaar vir hierdie infeksie.
Die infeksie mag ook lei tot ontsteking van die limfsisteem en limfknope in die borsarea, ontsteking van die haarfollikels, mastitis en aborsies in perde. Die kiem veroorsaak ook ontsteking van die limfsisteem in beeste.
Ekonomiese impak
Kaasagtige limfklierontsteking kom in die RSA veral in die droër dele voor (Karoo, Oos-Kaap en Vrystaat) en veroorsaak aansienlike finansiële verliese weens die afkeuring en afgradering van besmette karkasse en velle tydens slagting. Kaasagtige limfklierontsteking is die grootste rede vir skaap- en bokkarkasafkeurings in die RSA. Wolproduksie word ook benadeel (4 tot 7% minder wol van 'n besmette skaap)
Verspreiding van die siekte
In ekstensiewe toestande kom kaasagtige limfklierontsteking meer in ouer diere voor. Waar skape gereeld gekraal of intensief gevoer word, is die voorkoms van die siekte al reeds in jong diere.
Kliniese tekens en patologie
Nadat die kieme die liggaam binnegedring het, neem dit ongeveer 25 tot 140 dae vir absesse om te ontwikkel. Kliniese tekens hang dikwels daarvan af waar die absesse of abses voorkom. As limfkliere aangetas is, vergroot hulle en as hulle onder die vel voorkom, is die vel oor hulle dikwels dun en haar- of wolloos. Kliere wat die meeste aangetas word, is dié voor die blad, in die lies, agter die boud, onder die oor of tussen die longe.
Absesse kan nie altyd waargeneem word nie, omdat hulle soms inwendig voorkom (bv. in die lewer, longe, milt of rugmurg) en hulle word dus eers nadoods vasgestel. Kleinvee wat groot of veelvuldige absesse het, verloor gewig, verswak en as absesse in die longe voorkom, mag hulle asemnood ondervind en hoes.
Absesse vernietig die hele struktuur van die limfklier. Die klier vergroot deur ettervorming. As die abses oopbars, kom daar dik, vaalgroen, taaierige etter uit. In ou absesse is die etter dik, kaasagtig. Die abses word gewoonlik goed afgekapsel deur die dier en mag ook konsentriese ringe soos 'n deurgesnyde ui toon.
Van die inwendige organe is die longe die meeste geaffekteer. Enkel of veelvoudige absesse kan voorkom met die limfkliere in die area gewoonlik ook aangetas.Die naam "hartslagsiekte" word aan hierdie toestand gegee. Dikwels word aanhegtings vanaf die abses in die long na die borskas gevind. Die vergroting van die limfkliere in die borskas oefen dikwels druk uit op die slukderm, met gevolglike gewigsverlies.
Absesse kan in verskeie plekke in die liggaam voorkom en daarom sal daar vir elkeen sekere kliniese tekens waargeneem kan word. Voorbeelde waar absesse kan voorkom, is: lewer, niere, milt, brein, rugstring, werwelkolom, diafragma, spiere, hart, tong, oë, uier, testes, bene en gewrigte. Voortplantingsprobleme soos aborsies, stilgeboortes en infeksies van die pasgeborene kan voorkom. Die infeksie kan ook die liggaam vergiftig wat tot vrektes kan lei. Longabsesse word dikwels in Angorabokke gevind.
Diagnose van kaasagtige limfklierontsteking
'n Voorlopige diagnose kan gemaak word op die kenmerkende vergrote limfkliere met die geelgroen, dikkerige kaasagtige etter wat teenwoordig is. Deur die etter, veral van die kant van die abses te neem en vir kweking na 'n laboratorium te stuur, kan die kiem geïdentifiseer word. Kaasagtige limfklierontsteking kan verwar word met ander kieme wat absesse veroorsaak bv. Arcanobacterium (Corynebacterium) pyogenes, Staphylococcus aureus, Streptococcus spp., Pasteurella spp., Brucella ovis, en ander kieme wat ramsiekte veroorsaak.
Beheer
Prof. Ken Pettey van die fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria het die volgende te sê oor die beheer van die siekte. Vir jare het hy geen sukses gehad om absesse op plase te beheer nie. Boere het moed opgegee en hulle probleme aan ander boere verkoop.
Omtrent sewe jaar gelede het hy tesame met twee bakterioloë, drs. Maryke Henton en Jackie Picard, besluit om eers 'n diagnose op elke plaas te maak van wat die absesprobleem veroorsaak voordat inenting en behandeling geskied. Op die voorkoms van die etter sou in meeste gevalle 'n; diagnose van Arcanobacterium (Corynebacterium) pyogenes gemaak wees, maar uit 200 kulture (52 van bokke), was slegs 4 A. pyogenes. Die res was almal C. pseudotuberculosis! Party van die absesse was so groot soos volstruiseiers.
Die volgende stuk word aan elke boer uitgegee nadat 'n bevestigde diagnose van C. pseudotuberculosis (kaasagtige limfklierontsteking gemaak is).
Corynebacterium pseudotuberculosis
Uitwendige absesse kan behandel word deur die absesse te lanseer, te dreineer en goed skoon te maak. Maak seker dat al die etter vernietig word en die omgewing goed ontsmet word. Antibiotika is vir inwendige absesse die mees praktiese opsie. Alhoewel die kiem sensitief vir verskeie antibiotika is, is behandeling selde suksesvol. Diere moet vir 'n lang tydperk teen hoë dosisse behandel word, omdat die absesse dik kapsels om hulle het en die antibiotika nie daar kan deurdring nie.
'n Verdere probleem is dat die kieme binne-in die selle van die dier is en die antibiotika hulle nie so goed bereik nie. In baie gevalle is dit beter om geaffekteerde diere uit te slag. Higiëne is belangrik, jy wil nie die kiem in die omgewing versprei nie!
Moenie aangetaste diere skeer nie, aangesien die skeer van hierdie skape die siekte deur die hele kudde sal laat versprei. Indien sulke skape geskeer moet word, moet skêre tussen elke skaap in formalien of kwatinêre ammonium bevattende ontsmettingsmiddel gewas word. Skeer eers jong skape en eers daarna die ouer diere. Ontsmet skeerwonde.
As absesse oopbars of oopgesny word, moet die area deeglik skoongemaak word. Ontsmet en versamel al die etter en etterbevattende gaasdoeke/sneespapier/koerante en verbrand hulle. Moenie sulke prosedures in die skuur, kraal of drukgang uitvoer nie. Daar is geen ideale area nie, maar ʼn pad waar daar sonblootstelling is, is dalk beter.
Op plase waar daar 'n probleem is, moet alle diere op die plaas ingeënt word met die Corynebacterium pseudotuberculosis (ovis) entstof. Lammers kan eers op 3 maande ingeënt word. Omdat die entstof geïnaktiveer is, moet 'n skraagdosis een maand na die eerste inenting toegedien word. Daarna moet al die diere jaarliks of op hoog besmette plase elke 9 maande, ingeënt word. Om sukses te bereik, is dit belangrik om die inentingsprogram stiptelik te volg.
Entstowwe wat gebruik kan word, is Corynebacterium ovis (G709), Glanvac 3 (G2347) en Cydectin Eweguard (G2304) en Cydectin Eweguard met selenium en vitamien B12 (G3541).
Geskryf deur: Dr. Faffa Malan, prof. Ken Pettey, prof. Gareth Bath en dr. Jackie Picard Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.
Bron:
Coetzer, J.A.W. and Tustin, R.C. 2004 Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press Southern Africa. ISBN 0 19 578202 X
De Wet, J. en Bath, G. 1994. Kleinveesiektes. Tafelberg-Uitgewers. ISBN 0 624 03203 5
15 Desember 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24