Skaap babesiose is ’n bosluisoorgedraagde siekte wat veroorsaak word deur die protosoїese parasiete Babesia ovis en B. motasi. Die parasiete kom in rooibloedselle voor.
Voorkoms van babesiose
Skaapbabesiose veroorsaak deur B. ovis
Die siekte kom voor in die verspreidingsgebied van die bosluis Rhipicephalus bursa nl. die Mediterreense gebied, Balkan, Kazakhstan, Kirghizstan, Turkmenistan, Irak en Iran. Hierdie bosluis word nie in die Suidelike Halfrond gevind nie.
Skaapbabesiose veroorsaak deur B. motasi
Die verspreiding van die siekte is baie wyd en sluit die volgende gebiede in: Wes- en Noord-Europa, die Mediterreense gebied, Asiё (Turkye, Indiё, China) en Afrika (Somaliё, Nigeriё, Madagaskar en Suidelike Afrika. Die voorkoms van B.motasi in Suid-Afrika is die eerste keer in 1902 beskryf, maar daarna is die voorkoms van die siekte nog nie weer aangemeld nie.
Vir alle praktiese doeleindes kan ons sê dat babesiose in skape en bokke nie in Suid-Afrika voorkom nie.
Diere
Babesiose wat veroorsaak word deur B. ovis en B. motasi affekteer alle skaaprasse, maar kom selde in bokke voor. B.ovis is meer siekteverwekkend as B.motasi. Sekere isolate van B.motasi infekteer skape en bokke terwyl ander slegs skape besmet. Drie ander Babesia spesies is in skape in Algeriё, Indiё en Iran gevind nl. B. sergenti, B. foliata en B. crassa.
Bosluise wat die siekte oordra
R.bursa is ‘n tweegasheer bosluis en hulle natuurlike gashere is wilde skape en bokke. Hierdie bosluis is een van die belangrikste bosluise in Cyprus, Siriё, Israel, die Balkans en Turkye. Die voorkoms van babesiose is gekorreleerd met die voorkoms van die volwasse stadium van R. bursa.
Siektetekens
Die inkubasieperiode van die siekte is 7 tot 9 dae.
Die akute vorm van die siekte word gekenmerk deur: koors, bloedarmoede, geelsug, rooi urine is raar, maar kan tydens die einde van siekteverloop voorkom. Diere mag ook ‘n konstipasie hê en miskorreltjies mag bloed bevat en met slym bedek wees. Dragtige diere kan aborteer en ‘n hoё vrektesyfer kan in vatbare dier voorkom.
Diagnose
Deur ‘n bloedsmeer te maak, kan die parasiete met ‘n mikroskoop in die rooibloedselle gesien word. Die voorkoms van die parasiete is baie laag.
Foto’s van die parasiete kan gesien word by:
Immuniteit
Diere wat van die siekte herstel en hulle besmetting behou, is gewoonlik immuun teen die siekte. Daar is geen kruisimmuniteit tussen B. ovis en B. motasi nie.
Voorkoming
Maatreёls om die siekte te voorkom, is dieselfde soos vir rooiwater in beeste en sluit die volgende in: strategiese bosluisbeheer, inenting met ‘n bloedentstof en gebruik van middels.
Behandeling
Selfde as vir beeste. Aktiewes wat gebruik kan word, is diminaseen en imidokarb
Differensiёle diagnose
Siektes waarmee rooiwater verwar kan word, is: Anaplasma ovis, Theileria ovis, Cytoecetes phagocytophyla en Eperythrozoon ovis. Kopervergiftiging, wat ‘n bloedkrisis veroorsaak, moet ook in gedagte gehou word.
Bron:
Coetzer, J.A.W. en Tustin, R.C. 2004. Infectious diseases of Livestock. Oxford University Press. ISBN 0 19 576169 3
14 November 2011
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)