|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 23:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
'n Leser vra vir inligting oor die swart kolle wat op 'n ram verskyn het tydens 'n veiling en een van ons kundiges help.
Vraag:
Die ram op dié foto is op ons veiling aangebied. Baie interessant is die kleur van die ram. Hy is uit die voorwêreld ingebring Bosveld toe en het toe hartwater gekry. Hy het gelê en was amper dood. Nadat hy herstel het, het die swart kolletjies op sy hele lyf verskyn. - Leonie (jakkelsdraf@telkomsa.net)
Antwoord:
Nog nooit is so iets as die direkte gevolg van hartwater beskryf nie. Die enigste teoretiese verband is dat die hartwaterorganisme Ehrlichia ruminantium die binneste uitvoering van klein bloedvatjies beskadig.
Dit lei tot die watersug wat die bekende longedeem, water in die hartsak, skuim in die lugpup en breinskade veroorsaak. Maar indien ander bloedvate soos dié onder die vel beskadig word, mag dit teoreties tot versteuring van die pigmentselle lei en mettertyd veelvoudige swart kolle veroorsaak.
Andersins, en baie meer waarskynlik, het die verskynsel niks met hartwater te doen nie. 'n Mens kry maar baie diere wat swart velkolle het, selfs as die hare bokant wit is. Hierdie kolle kan mettertyd meer opsigtelik raak. Hierdie geval behoort deeglik deur 'n bekwame veearts ondersoek te word.
31 Maart 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24