Skilpad dieet

Vraag

Wat is 'n skilpad se dieet? Mag 'n mens 'n skilpad aanhou? Ek het onlangs een gered wat werkers in 'n sak rondgedra het.

Antwoord

Deur: Dr. SUNELLE STRYDOM

As jy ‘n skilpad in Suid-Afrika wil aanhou, benodig jy ‘n permit van natuurbewaring. 

Skilpaaie is herbivore. ‘n Herbivoor se dieet bestaan hoofsaaklik uit groen plantmateriaal, grasse, blare, party soorte vrugte en groente. Energie word verkry deur bakteriële fermentasie van vesel. ‘n Dieet laag in vesel lei tot loperinge ontlasting. 
 
Die dieet moet hoofsaaklik bestaan uit hoë vesel wat voorsien word deur gras, bossies, hooi en blaargroente (80% van die dieet). Ander groentes kan ongeveer 15% van die dieet uitmaak en vrugte moet nie meer as 5% van die dieet uitmaak nie.   
 
Verskaf so ‘n groot verskeidenheid as moontlik van grasse en bossies. Sien lys van grasse in die aangehegte pdf hieronder.
 
Blaargroente sluit die volgende in: bindslaai, pietersielie, perdeblom, raap- en beetblare, blaarbeet, wortelblare, spinasie, bronslaai. Ander groentes sluit in: blomkool, witwortel, wortels, jong murgpampoentjie, patat, raap, skorsie. Vrugte sluit in: meloen, pruime, pynappel, mango, vye, druiwe, tamatie, appel, peer, aarbeie, framboos, komkommer, waatlemoen, en papaja.
 
Al die blaargroentes, ander groente en vrugte moet afgespoel word en in klein stukkies opgesny word en goed gemeng word waarna dit met ‘n mineraal- en vitamien aanvulling bedek word voordat dit vir die skilpad gevoer word. ‘n Voorbeeld van ‘n mineraal- en vitamienaanvulling wat gebruik kan word, is Nutrobal (Vetark). Onthou dat direkte sonlig nodig is om vitamiene D3 te vorm wat nodig is om kalsium te absorbeer. Vars water moet beskikbaar wees vir die skilpad om te drink en in te bad.                                
 
Verwysings:
1.     Fleming G J. 2007. Reptile Nutrition – What’s new? International Veterinary Information Service. www.ivis.org
2.     The Merck Veterinary Manual [webblad] beskikbaar by http://www.merckvetmanual.com soos beskikbaar op 19 Januarie 2010
3.     Information leaflet from Johannesburg Zoo.
 
Geskryf deur: Dr Sunelle Strydom (BVSc) (drsunelle@vodamail.co.za)
 
30 Januarie 2010

Addisionele dokument

3.826085
Gemiddeld: 3.8 (23 votes)
Jou gradering: Geen