Mens moet baie versigtig wees om enige moontlike gifstowwe naby eksotiese diere te gebruik, asook om enige medisyne in eksotiese diere te gebruik.
Die volgende gifstowwe en huishoudelike middels kan vergiftiging in reptiele, wat skilpaaie insluit, veroorsaak:
Organofosfate en karbamate
Hierdie middels word maklik deur die vel, asemhalingsstelsel, maagdermkanaal en die bindvlies van die oog van reptiele geabsorbeer . Siektetekens in reptiele weens vergiftiging met organofosfate or karbamate sluit speekselvloei, ataksie (‘n gebrek aan koördinasie weens ‘n onvermoë van die pasiënt om die posisie van die kop, lyf en bene te koördineer), onwillekeurige spiersametrekkings, koma en asemhalingstilstand in. Reptiele wat deur middel van hul vel aan organofosfate en karbamate blootgestel is, moet gewas word met ‘n milde skottelgoedwasmiddel en groot hoeveelhede water. Dit is belangrik dat hulle daarna afgedroog word om sodoende verdere opname van die gifstof te voorkom. Hulle sal ook veeartsbehandeling benodig deur middel van vloeistoftoediening om ontwatering en die wanbalans van elektroliete te behandel.
Piretroïede en piretriene
Verdunde sproeimiddels wat piretroïede en piretriene bevat, is al aanbeveel vir die behandeling van eksterne parasiete van reptiele. Die regte kondisies en hoër dosisse, kan egter lei tot vergiftiging van reptiele. Siektetekens in reptiele weens vergiftiging met piretroïede of piretriene sluit speekselvloei, ataksie en onwillekeurige spiersametrekkings in. ‘n Klein persentasie van reptiele is uiters sensitief vir piretroïede en piretriene. Behandeling sluit die bad van reptiele met groot hoeveelhede water , vloeistof (elektroliet) toediening, asook behandeling met diasepam vir stuiptrekkings, in.
Bleikmiddels
Bleikmiddels veroorsaak ‘n velirritasie en gedurige blootstelling kan lei tot erge gevolge. Die vel van ‘n reptiel wat blootgestel was aan bleikmiddels moet onmiddellik gewas word met ‘n milde seep en louwarmwater mengsel. Reptiele moet ook vir 24 uur uit hokke verwyder word wat met bleikmiddels skoongemaak is, aangesien dit tot irritasie van die asemhalingsstelsel kan lei. Sulke hokke moet toegelaat word om asem te haal en enige oorblywende bleikmiddels moet met ‘n skoon lap afgevee word.
Rotgif
Anti-stolmiddels, asook nuwer rotgiwwe wat in korrels geformuleer word en vitamiene D3 kan tot vergiftiging van reptiele lei.
Slakgif
Metaldehied wat in slaklokaas gebruik word, word gewoonlik met proteïenryke bronne soos koring of semels gemeng om dit meer aanloklik vir slakke te maak. Ongelukkig vind ander diere dit dan ook meer smaaklik. Daar is al vrektes in skilpaaie aangemeld weens metaldehied. Daar is geen spesifieke teenmiddel vir metaldehied nie.
Ek beveel dus aan dat as u enige gifstowwe wil gebruik, u die skilpaaie moet isoleer van die areas af wat u wil behandel. Onthou egter dat baie van hierdie middels dae of selfs maande kan neem om af te breek in die omgewing en dus vir lang tydperke nadat die gif gespuit is nog tot vergiftiging kan lei.
Boererate sluit die volgende in:
· Meng 45% bakpoeier, 45% versiersuiker en 10% droë aktiewe gis en strooi dit waar die miere voorkom
· Strooi talkpoeier in areas waar u nie miere wil hê nie, asook by hul neste
· Gebruik ‘n sproeibottel en spuit die miere met ‘n bietjie seepwater
· Plaas kruisementteesakkies waar die miere die aktiefste is. Gedroogde kruisementblare wat fyngemaak is, asook naeltjies kan gebruik word as afweermiddels.
Ek stel dus voor dat u eerder die boereraat probeer, maar dat die skilpaaie geїsoleer word sodat hulle nie in kontak kom met enige van die middels nie.
Verwysings:
- Fitzgerald K T and Newquist K L. 2008. Poisonings of reptiles. Veterinary Clinics of North America: Exotic Animal Practice vol 11 (2): 327-357
- The bug stops here [webblad]. Beskikbaar by www.thebestcontrol.comsoos op 7 Oktober 2010
- Natural insect pest control [webblad]. Beskikbaar by http://eartheasy.com/live_natpest_control.htm soos op 7 Oktober 2010
Geskryf deur: Dr Sunelle Strydom (BVSc)
8 Oktober 2010