My man het onlangs met 'n voerkraal op ons plaas begin. Hoe oud moet ons bulkalfies wees voordat ons hulle kan speen om dan in die voerkraal te sit?En dan wil ek ook weet - wat is speenskok? Juanita
Vleisbeeskalwers word normaalweg op ongeveer 7 maande (200 – 210 dae) gespeen. Die speenmassa varieer dan vanaf 180 tot 280 kg afhangende van die ras en die voedingsomstandighede. Algemeen gesproke kan gesê word dat sodra ‘n kalf goed vreet, hy gespeen en in die voerkraal gesit word. Die vroegspeen van kalwers het ook ‘n baie gunstige effek op die herbesetting van die koeie.
Daar moet ook deeglik besin word oor die winsgewendheid van die voerkraal en daar moet deeglik kennis gedra word van prys- en voermarge.Waar daar ‘n positiewe voermarge bestaan ( m.a.w. daar word wins gemaak tydens die voerperiode) sal dit ook betaal om kalwers vroeg te speen.
Speenskok verwys na die verlies aan gewig wat plaasvind wanneer kalwers skielik van hul ma’s weggeneem word en op hul eie moet klaarkom. Die gebruik van speenringe kan speenskok tot ‘n minimum beperk. ‘n Speenring lyk omtrent soos ‘n neusring met skerp punte. Dit word met speentyd in die kalf se neus gesit en sodra hy wil suip, maak die skerp punte die koei seer. Op hierdie wyse word die kalf gespeen terwyl hy nog by sy ma loop.
Geskryf deur: dr. Hannes Deyer, Veekundige (hannesdreyer@vodamail.co.za)
3 Februarie 2010