Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Steenbokkie verloor hare

Vraag

Ek maak ‘n steenbokrammetjie hans groot. Hy is ongeveer 12 weke oud en drink tans 3 maal per dag volroom koeimelk en vreet grassies en blare in die tuin. Dit lyk asof hy hare verloor op sy rug en lieste. Verhaar steenbokkies of is dit dalk ‘n probleem met sy dieet?

Antwoord

Deur: Deur Dr. SUNELLE STRYDOM

Dieet

Eerstens moet ek u inlig dat volroom koeimelk nie die regte dieet vir ‘n klein weesbokkie is nie. Koeimelk bevat te min vet en eiwit vir wildsbokke en beesmelk moet dus verryk word om ‘n hoër vet- en eiwitinhoud te kry. Lees gerus die artikel “Melkformule vir hans-wildsbokkie” wat ook op Vra vir Faffa beskikbaar is. Let asseblief egter daarop dat indien u onmiddellik te drasties sou oorskakel na die melkformule, die bokkie diarree kan ontwikkel. Die meeste wildsbokke sal vanaf die ouderdom van 3 tot 6 maande gespeen word.

 
Normale en abnormale haarverlies
Haarverlies is net abnormaal as dit gepaard gaan met die ontwikkeling van alopesie, die gedeeltelike of totale afwesigheid van hare in areas waar dit normaalweg voorkom. As die haarverlies nie gepaard gaan met alopesie nie, is dit moontlik dat dit net ‘n normale stadium in die vervanging van die haarpels is, want die ontwikkeling en die groei van ‘n nuwe haar gaan gepaard met die verlies van die ou haar.
 
Alopesie
Alopesie kan die volgende oorsake hê:
  • Oorerflike alopesie – tekens sal vanaf geboorte teenwoordig wees
  • Haarfollikel displasie (die haarfollikel ontwikkel nie normaal nie)
  • Demodikose (myte)
  • Fungi
  • Outo-immuunsiekte
  • Kanker
  • Bakteriese velinfeksie
  • Endokrien abnormaliteite
  • Voedingstekorte, veral proteïentekorte
  • Allergiese velkondisies
  • Ander ektoparasiete
 
Die behandeling van alopesie sal afhang van die oorsaak en die steenbokkie sal dus na u plaaslike veearts geneem moet word vir ‘n diagnose. ‘n Volledige velondersoek mag nodig wees. Sien gerus artikel “Hond kry vel-allergieë” vir ‘n aanduiding oor wat ‘n velondersoek insluit.  
 
Verwysings:
1.    Ettinger S J and Feldman E C. 2000. Textbook of Veterinary Internal Medicine 5th Edition. W.B. Saunders Company, USA.
2.    The Merck Veterinary Manual [webblad] beskikbaar by http://www.merckvetmanual.com soos op 6 Oktober 2009.
3.    Bothma J. du P. 1988. Wildsplaasbestuur. J.L. van Schaik (Edms) Bpk, Pretoria.
 
Geskryf deur: dr. Sunelle Strydom, BVSc
13 Oktober 2009
0
Geen gradering nie
Jou gradering: Geen

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)