Vra vir Faffa

Sukkel om boklammers groot te kry

Vraag

Ek boer ongeveer 5 jaar met boerbokke. Die eerste 3 jaar het dit baie goed gegaan, maar ek sukkel van laas jaar af met ooie wat swak lammers gee en hul lammers weggooi. Selfs die sterk lammers word weggegooi en na 2 weke in lammerhokke waar ons 4 tot 5 keer per dag die ooi vasmaak om te drink, wil hul nog steeds nie die lam vat nie. Ooie is in ‘n baie goeie kondisie. Ek voer tef, armanslusern en n energielek ad lib. Hulle kry ook elke dag kragvoermengsel (lusern, mielies mengsel) in die middae. Dragtige ooie kry 500gram lam-, ooi- en rampille. Ek het van die nageboortes en fetusse Onderstepoort toe gestuur, maar hul kry geen aansteeklike siektes nie, behalwe Pasteurella multocida in een van die volwasse bokke wat dood is kort nadat sy gelam het. Hierdie jaar het nog nie een ooi hul lam self groot gemaak nie. Oor ‘n 100 ooie het al gelam en ons kon net 5 groot kry met ‘n groot gesukkel.

Antwoord

Die eerste oorsaak waaraan ‘n mens dink, is chlamydiose (ensoötiese aborsie). Is die ooie ingeënt voordat hulle by die ram gekom het? Van die fetusse en plasentas is tog ontleed en die kieme behoort gesien te word.

Bokke is baie sensitief vir ‘n Viamien  A tekort – aborsies, swak gebore lammers en “mis mothering” is tekens daarvan. Ek sien dit baie in my area, veral op grasveld as dit begin ryp raak. Ek weet nie of die lusern wat die bokke kry vars gebaal en nog groen is nie en of dit al redelik gebleik is nie.

‘n Mens kan  ook dink aan ‘n kronies laegraadse rumenasidose met ‘n gevolglike tiamien (Vit B1) tekort by die ooie – dom – “mis mothering”. Vloer-, krip- en drinkspasie is ook belangrik.

Daar is nie Vit A inspuitbare produkte vir bokke en skape beskikbaar nie en ek spuit 0.5ml/ooi van enige bees Vit A-E in (Vir beeste 1ml/250kg maar 0.5ml is prakties by bokke en ek het nog nie probleme gehad nie).

Geskryf deur dr. Ian Vorster, Upington (mwuptvet@mweb.co.za)

7 Junie 2017


Kommentaar

Een kommentaar op “Sukkel om boklammers groot te kry

  1. Dawie Krynauw
    Dawie Krynauw

    Smaak my hierdie vraag is op twee plekke gedoen. Ek spuit nie graag nie en vitamien A kan maklik toegedien word. Oral-vit-A is ‘n taai stroop wat ek in die yskas hou en een eetlepel van se 15ml is genoeg vir 200 bokke se maar twee maal per winter. Sorg dat almal op een plek in die kraal drink en meng dit wanner hulle kraal toe kom. Son verwoes die vitamien. Die B vitamien word aanbeveel deur Amerikaanse bokboere wat groot met ons boerbokke boer veral wanneer die diere af is. Hulle noem hulle ‘boers’ ! Vitamien B kry jy in lekke soos Kalorie 3000 of Phossure P6. Dink nog jy het ‘n groot minerale tekort van veral jodium en/of seleen. 082 668 1440.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.