Dit is belangrik dat soveel moontlik inligting gegee moet word sodat ‘n oplossing gevind kan word. Neem ook ‘n paar foto’s van die aangetaste dele. Dit sal baie help. Sny ook in die area in wat aangetas is en gee ‘n beskrywing van die onderliggende area (kleur, konsistensie) en soek ook vir klein wurmpies. ‘n Vergrootglas kan ook gebruik word sodat u daarna die wurmpie beter kan beskryf. Kyk ook na die blare van die plant en let veral op na die onderkante: is daar verkleuring, is daar eiertjies gelê en indien wel, hoe lyk hulle?
Die vraesteller gee nie baie inligting nie, dus is ‘n positiewe identifikasie nie moontlik nie. Kom ons kyk egter na ‘n paar moontlike sondebokke.
Ek dink ons kan die Lepidoptera groep (larwes van motte en skoenlappers) uitskakel, want die larwes sou maklik sigbaar gewees het.
Ander moontlike insekpeste sou of stinkbesies of vrugtevlieё kon wees. Die simptome klink nie na stinkbesies nie want hulle laat ‘n effens ingeduikte harderige, droё letsel na.
Vrugtevlieё kan dalk die probleem wees. Dit is interessant om daarop te let dat daar meer as 500 vrugtevliegspesies in Afrika voorkom en dat hulle omtrent elke vrugsoort – gekweek en wild – aanval. Ek glo dat as dit vrugtevlieё is, dit een van drie soorte kan wees: die Meditereense vrugtevlieg, die Natalse vrugtevlieg of die sogenaamde pampoenvlieg. Al drie hierdie spesies het ‘n wye gasheerreeks wat waatlemoene en spanspekke insluit.
Die volwasse wyfie vlieg druk haar eierboor deur die skil van die jong vrug terwyl die skil nog sag is en lê ‘n aantal eiers in die gaatjie. Van hier af is dit net afdraande vir die vruggie. Die eiers broei na twee tot drie dae uit en larwes begin vreet aan die vrug.
Daar is egter twee redes waarom ek nie so seker is dat hulle verantwoordelik is nie. Een is dat die vruggie na omtrent ‘n week afval en die ander is dat vrugtevlieё nie vroeg in die seisoen ‘n plaag is nie.
Die beskrywing van ‘n “swart kol” klink meer na ‘n bakteriese siekte. Daar is ‘n aantal bakteriese patogene wat waatlemoene aanval, maar sonder ‘n meer volledige beskrywing is ons hande afgekap.
Ons weet ook nie hoeveel vrugte betrokke was nie. Enige klein letseltjie op die vrug kan ook toelaat dat opportunistiese patogene probleme veroorsaak.
Ek kan nie vir u ‘n behandeling aanbeveel nie, aangesien ek nie met die inligting tot my beskiking ‘n diagnose kon maak nie.
Vir verdere inligting kan die Plantbeskerming afdeling van die LNR by 012 808 8000 of Roodeplaat by 012 841 9611 geskakel word.
6 Desember 2009