Menu

Sweetsiekte by kalwers

Vraag:

Waar is meer inligting oor sweetsiekte by kalwers beskikbaar?

Antwoord:

Vraag:
Waar kan ek meer inligting kry oor sweetsiekte by kalwers? - Anton Opperman (aopperman@rtbcc.co.za)

Antwoord:
Sweetsiekte ( Nat Kalwersiekte) is 'n akute siekte van veral jong kalwers en word gekenmerk deur koors, taai, klam vel, hare wat uitval, en ontsteking van die slymvliese, veral van die neus en bek.

Oorsaak:
'n Gifstof wat ontstaan in die speeksel van die wyfie van sekere stamme van die bontpootbosluis, Hyalomma truncatum. 'n Bepaalde bosluisstam kan die vermoë om gifstof te produseer vir geslagte behou. Een besmette bosluiswyfie kan sweetsiekte tot gevolg hê. Hoe langer 'n besmette bosluis aan 'n dier suig, hoe erger is die siektetekens. As die bosluis die gifstof vir langer as 7 dae in die dier "inspuit", kan erge tekens en selfs vrektes voorkom.

Siekteverloop:
Die broeiperiode nadat 'n besmette bosluis aan die dier begin suig, is 4 tot 11 dae. Tekens verskyn vinnig. Koors ontwikkel, dier hou op vreet, is lusteloos, oë traan en daar is 'n neusuitloopsel. Die slymvliese van veral die neus en oë verrooi. Daar is spoegloop en sere kan in die mond ontstaan. Die ooglede kan ook aan mekaar vaskleef. Die vel word warm en daarna klam en taaierig. Hierdie toestand begin gewoonlik onder die ore, onder die blaaie, tussen die agterbene en mag daarna oor die hele lyf uitbrei. Hare kan later maklik uitgetrek word en die vel daaronder is rooi en pynlik. Vog sypel uit die ontsteekte vel en verdroog en verhard later - vandaar die naam "sweetsiekte". Kalwers vermaer, dehidreer en soek skaduwee op. Akute vrektes van 20% tot 30% kan voorkom. By kalwers wat herstel,val die hare uit en 'n nuwe haarkleed groei met verloop van tyd.
Die siekte is al eksperimenteel aan varke en skape oorgedra.

Behandeling:
Verwyder alle bontpootbosluise so gou moontlik van die aangetaste dier af. Kyk ook in die stertkwas en bokant die hoewe vir bosluise. Die kalf kan met 'n dipstof wat amitras bevat, bv. Taktic Cattle Spray G 2535, gespuit word. Dit het 'n losmakende en dodende effek op die bosluise. Aangesien die bontpootbosluis veral in die stertkwas voorkom, kan in gebiede waar sweetsiekte algemeen voorkom, die kalwers se sterte elke week in 'n emmer gedip word. Die siek kalwers moet in die skaduwee versorg word en teen ongure weer beskerm word. Kalwers met sere in die mond moet met 'n bottel gevoer word. U veearts kan die kalwers ook met lewerstimulante en antibiotika behandel. Hiperimmuunserum (20 ml) verkry van 'n bees wat onlangs van sweetsiekte herstel het, kan intraveneus aan 'n siek kalf toegedien word. Daar moet altyd in gedagte gehou word dat 'n skok reaksie mag intreë aangesien hierdie serum 'n vreemde proteïen vir so 'n bees is.

Voorkoming:
Waar bontpootbosluise voorkom, moet dier gereeld voorkomend gedip word. Aangesien die bontpootbosluis veral in die stertkwas voorkom, kan in gebiede waar sweetsiekte algemeen voorkom, die kalwers se sterte elke week in 'n emmer gedip word.

 

  • Geskryf deur dr. Faffa Malan, Intervet en Arthur Spickett, Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut (spickettam@arc.agric.za)

    26 Januarie 2007

26 Januarie 2007

3418 keer gelees | 0 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 15/04/14 22/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3446c 3452c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1719c 1726c down 0.4
Skaapvleis A2/A3 4709c 4730c down 0.4
Varkvleis (gem. prys) 2132c 2119c down -0.6
Braaikuikens 1721c 1729c down 0.5

Aandele