|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 02:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Ek het gehoor dat sommige lintwurms skadelik vir mense kan wees en selfs breinskade kan veroorsaak. Tog was ek altyd onder die indruk dat die wurm net in die dermkanaal voorkom. Kan iemand asb. meer lig werp op die onderwerp?
Dit is so dat die volwasse stadiums van die meeste lintwurms wel in die dermkanaal (en meer spesifiek die dunderm) voorkom (daar is egter uitsonderings, maar verdere besonderhede daaroor is nie nou ter sprake nie). Mens moet egter die totale lewensiklus ingedagte hou. Die volwasse wurm produseer segmente met eiers. Die eiers word ingeneem deur ‘n geskikte tussengasheer (kan wissel vanaf grasmyte en vlooie tot muise, hase en beeste afhangende van na watter gasheer en dus ook lintwurmspesie jy kyk).
Die besmetlike tussenstadium (basies ‘n ingestulpte lintwurmkoppie of koppies) ontwikkel in die tussengasheer, dikwels in die vorm van “masels” of “siste”. Die bekendste is seker “masels” in varkvleis (tussengasheer van die menslike lintwurm Taenia solium). Die finale gasheer moet dan weer die besmetlike tussenstadium inneem waarna die volwasse wurm ontwikkel.
As mens kyk na lintwurms wat gevare inhou vir mense, wil ek graag drie uitlig en bespreek aan die hand van bogenoemde lewensiklus. Wat volwasse lintwurms in mense betref, is meeste mense bewus van Taenia saginata (bees as tussengasheer) en Taenia solium (vark as tussengasheer), beide lintwurms waarvan die volwassenes in mense kan voorkom.
Soos met meeste lintwurms sal ‘n prasikwantel behandeling egter vinnig van die wurms ontslae raak. Gelukkig is insidensie oor die algemeen laag met die streng higiëne maatreëls wat by voerkrale ens. toegepas word. In landelike areas waar varke rondloop (“free ranging”) en toegang het tot menslike ontlasting lyk die prentjie ietwat anders. Nog ‘n lintwurm waarvan die volwasse stadium soms “kop uitsteek” (of eerder “segment uitsteek”) by veral kinders is Dipylidium caninum, ‘n lintwurm van honde. Die tussengasheer is vlooie en soms kry kinders dit reg om een van die besmette ongediertetjies in die kies te kry.
Die groot gevaar lê egter op die vlak van die onvolwasse stadium, m.a.w. wanneer mense sekere van die lintwurms se eiers inkry. Hier is veral Taenia solium (en soos vermeld veral in landelike gebiede) ‘n groot gevaar. Soos in die natuurlike tussengasheer (varke) sal die besmetlike tussenstadium in die mens begin ontwikkel. Baie eenvoudig gestel migreer dit na die bloedstroom en setel in die dun kapillêre bloedvate waar dit ookal “vashaak”. Dit is dikwels in organe soos die spiere, lewer, longe en brein. Dit kan uiteraard weefselskade tot gevolg hê en lei dikwels tot simptome wat vergelykbaar is met epilepsie as dit in die brein ontwikkel.
Verder blyk dit dat ‘n persoon wat met die volwasse wurm besmet is hom / haarself met eiers kan besmet indien ‘n segment en / of eiers deur negatiewe peristalse van die dunderm in die maag sou beland. ‘n Ander lintwurm wat ‘n soortgelyke gevaar (m.a.w. ontstaan van siste wanneer die eiers ingeneem sou word) inhou, is Echinococcus granulosus waarvan die volwassene wurms in honde voorkom. Indien die eiers ingeneem word ontwikkel ‘n vloeistofgevulde sist wat aanhou “groei” soos ruimte dit toelaat (bv. in die buikholte). Simptome is soms eers tien tot 20 jaar na besmetting waarneembaar.
Ek sluit af met ‘n kort opsomming wat die algemeenste misverstand rakende lintwurminfeksies sal verhoed. Indien ‘n persoon ‘n “masel” (besmetlike tussenstadium) sou inneem, sal daar bloot ‘n volwasse lintwurm ontwikkel. Vir ‘n “sist” om te ontwikkel moet ‘n lintwurmeier ingeneem word.
29 Julie 2009
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
My foxy hondjie het lintwurms gehad toe ek haar gekoop het.ek het haar ontwurm,maar 3 dae later het sy epileptiese aanvalle begin kry.wat kan ek doen om dit te voorkom.enige raad asb.
hoe kan jy ontslae reek van so lintwurm in die menslike lyf ?
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)