Vra vir Faffa

Varkies word doodgebore

Vraag

Waarom sal daar gereeld ‘n varkie dood gebore word met die jongproses ? Is dit iets wat ek verkeerd doen of skort daar iets by die sog?

Antwoord

Die voorkoms van dooie varkies by geboorte is ‘n normale verskynsel. Inderdaad is die Suid- Afrikaanse gemiddeld 6.5% hiervan. Dit beteken vir elke 200 varkies wat gebore word, is 13 dood gebore. Natuurlik is daar produsente wat ‘n laer persentasie mortaliteite het, maar indien die syfer baie meer word, moet daar verder ondersoek word om die oorsaak te identifiseer.

Kom ons begin voor: daar is drie moontlike verskynsels-

  • Varkies wat voor hulle gebore is reeds dood is
  • Varkies wat tydens die geboorteproses dood gaan en
  • Varkies wat net na hulle gebore is, dood gaan.

Laasgenoemde word lewendig gebore, maar as die geboorteproses in die aand plaasvind, word hulle die volgende oggend dood aangetref.

Varkies wat dood gaan voor hulle gebore is, mag verskillende tekens van post mortem of degeneratiewe veranderinge toon. Een van die mees algemene verskynsels is die van “mummies” of sulke swart uitgedroogde fetusse.

Varkies wat tydens die geboorteproses vrek, sal nog vars wees. As hulle oopgesny word, is daar geen melk in die maag nie en ‘n stukkie van die long ( 50 sent grootte) sal nie in water dryf nie. Die mees algemene rede vir hierdie fenomeen is dat die geboorteproses te lank geduur het.  Die laaste varkie(s) in die werpsel vrek a.g.v. ‘n suurstofnood.

Baie varkies word lewendig gebore, maar vrek binne 6 tot 12 ure nadat hulle gebore is. Dikwels a.g.v. hipoglisemie (lae vlakke bloedsuiker). Een rede is dat hulle te koud kry. Sulke varkies se longe sal dryf in water en daar is dikwels klein hoeveelhede melk in hulle pensies.

Die volgende toestande dra by tot ‘n abnormale hoë dood geboresyfer:

  • Ouer sôe, meer as 6de werpsel a.g.v. baarmoederonbevoegdheid
  • Sôe wat te vet is
  • Groot werpsels
  • Geboorteproses van langer as 6 ure
  • Individuele sondaars, hulle herhaal dit werpsel na werpsel- Skot uit.
  • Hoë omgewingstemperatuur (>29 grade ˚C)
  • Lae vlakke van kalsium of yster in die sog
  • Hardlywigheid
  • Sôe wat nie teen parvovirus of circovirus geënt is nie

Bespreek enige afwykings met u veearts en konsulteer ‘n kundige voedingskundige vir gebalanseerde diëte.

Geskryf deur:  dr. Pieter Grimbeek, Varkkonsultant

pigvet@mweb.co.za

www.c4africa.net

4 Sptember 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.