Verwarring oor visvolksname: Swartbaars
Vraag:
In ‘n vorige antwoord is die verskille tussen die verkillende vorme van karpe bespreek. Ek het ‘n soortgelyke vraag wat swartbaars betref: Kry mens net een tipe swartbaars en waar pas die sogenaamde “Florida baars” in die prentjie?
Antwoord:
Wanneer meeste mense in Suid-Afrika na “swartbaars” (“black bass” of bloot “bass” in Engels) verwys, praat hulle gewoonlik van grootbekswartbaars (Micropterus salmoides) wat wyd versprei is in Suid-Afrika en redelik algemeen voorkom. Soos die naam aandui, is die bek baie groot en strek dit verby die agterrand van die oog wanneer die bek toe is. Hulle is kenmerkend donker olyfgroen van bo en liggroen aan die kante met donker olyf-gekleurde “balkies” oor die sylyn. Die visse is endemies tot Noord-Amerika (sentrale en oostelike gedeeltes) met ‘n verspreiding wat strek van die Golf van Mexiko tot die suide van Kanada. Swartbaars is na Suid-Afrika uitgevoer hoofsaaklik vir hengeldoeleindes. In 1928 is grootbekswartbaars (Micropterus salmoides) na die Kaap ingevoer uit voorraad wat ironies genoeg in Nederland geteel is. Die visse verkies helder damme of mere met baie plantegroei, moerasagtige areas of poele in riviere. Hulle hou naby struktuur (byvoorbeeld plantegroei, stompe of klippe in die water) waar hulle prooi-organismes soos visse en paddas verras. Toe ons in die Laeveld gebly het, het ek altyd aan kliënte verduidelik dat swartbaars met ‘n luiperd vergelyk kan word (m.a.w. ‘n “ambush predator”), terwyl tiervis weer meer soos ‘n jagluiperd “dink” en optree. Die sogenaamde Florida-baars (Micropterus salmoides floridianus) is ‘n subspesie van grootbekswartbaars wat in 1980 na Natal ingevoer is. Die subspesie groei vinniger en word ook groter as “gewone” swartbaars. Morfologies (m.a.w. bloot op grond van hoe die visse lyk) kan daar nie akkuraat onderskei word tussen grootbekswartbaars en Florida-baars nie. Om dit te doen, moet jy die piloriese uitstulpings tel wat wissel van 18 tot 29 in gewone grootbekbaars maar van 30 tot 47 in Florida-baars
Kleinbekswartbaars (Micropterus dolomieu) is in 1937 na Suid-Afrika ingevoer met ‘n tweeledige doel. Eerstens wou die owerhede rivierhengel buite die forelstreek verbeter en tweedens wou hulle die vis benut om inheemse visse soos die witvis en Natalse geelvis in riviere te beheer. Alhoewel kleinbekswartbaars hulle uitstekend van beide take gekwyt het, het hulle die tweede een effens te goed gedoen..... Die gevolg was ‘n swaar, negatiewe impak op inheemse spesies. Hulle verkies vlakkerige, klipperige dele van damme en mere, poele in riviere met stadig vloeiende water en ‘n gruisbodem asook koel, vloeiende strome en damme wat deur sulke strome gevoed word. Hulle verskil van grootbekbaars deurdat die bokaak (met die bek toe) tot onder die middel van die oog strek terwyl grootbekbaars se toe bek verby die oog strek. Verder, alhoewel kleinbekke ook olyfgroen in kleur kan wees net soos grootbekswartbaars, het kleinbekswartbaars dikwels ‘n brons skynsel en kom hulle selfs soms meer bruin as olyfkleurig voor.
Spikkel-baars (Micropterus punctulatus) is in 1939 ingevoer (weereens na die Kaap en Natal) om troebel water te bevolk. Dit word gereken as die mees onsuksesvolle baarsspesie in Suid-Afrika maar bevolkings kom blykbaar nog voor in riviere in die Oos-Kaap en Natal.
Verwysings:
Skelton, P.H. 1993. ‘n Volledige gids tot die varswatervisse van Suider-Afrika. Southern Boekuitgewers, Halfweghuis.
24 April 2012
24 April 2012
549 keer
gelees |
0 kommentaar