Vliegbeheer
Vraag:
Vlieё op die kalwers waar ek boer is ‘n groot probleem. Hulle pak om die oё en irriteer die kalwers. Wat kan ek doen?
Antwoord:
Vlieë kan ‘n enorme ekonomiese impak op ‘n melkboerdery hê. Daar word baie tyd en geld bestee daaraan om ontslae te raak van die vlieëplaag. Die probleem is dat die meeste boere al hul energie, tyd en geld bestee aan die bestryding van volwasse vlieë en nie konsentreer op die larwes, eiers en papies nie.
Melkboerdery word vandag intensief bedryf en daarom speel sub-kliniese siektes ‘n baie groot ekonomiese rol. Insetkoste is hoog, winsmarges is minder, die aantal vee is meer en boonop is die warmer en natter klimaat in die parasiete se voordeel. Slegs melkboere wat op die sub-kliniese aspekte van siektes fokus, sal oorleef en floreer. Boere wat slegs die kliniese gevalle behandel, meesal met goedkoop generiese medikasie sal nie floreer nie en tien teen een ook nie oorleef nie!
Onthou, vir elke kliniese geval van melkkoors, is daar 4-5 koeie met sub-kliniese tekens van bloedkalsium. Vir elke kliniese geval van mastitis, is daar 4-5 koeie met sub-kliniese mastitis wat produksie negatief beïnvloed. Dieselfde beginsel is op vlieë van toepassing---vir elke volwasse vlieg wat jy met ‘n vlieëplak bykom, of doodgaan na ‘n Agitamaaltyd, is daar 4-5 vlieë gereed om die dooie vlieg se plek in te neem! Dit kan vergelyk word met die polisie wat slegs dwelmslawe in hegtenis neem en hulle nie steur aan die dwelmsmouse nie. Daarom moet die boer die areas waar die vlieë broei uitroei en alle kontrole aksies op die onvolwasse stadiums van die vlieg fokus!
Oor die wêreld heen is in veldproewe vasgestel dat die irritasie wat vlieë veroorsaak, vee 25 minute tot 4-5 ure van hul eettyd elke dag laat verloor. Slegs 25 minute verlore eettyd kan 0.5 tot 1 liter minder melk per dag beteken! Behalwe die irritasie dra vlieë ook siektes oor, veral die bytende vlieë. Lg. dra anaplasmose (galsiekte), asook baie virusse en bakterieë oor. Sekere mastitiskieme, rotavirus, coronavirus, Salmonella (paratifus) en E.coli kan deur vlieë oorgedra word.
‘n Progressiewe, moderne melkboer weet watter siekte deur vlieë oorgedra word en watter groot verliese hierdie siektes kan veroorsaak. Daarom is dit so belangrik dat ons kennis neem van die chemiese benadering tot geïntegreerde beheer van vlieë. Met geïntegreerde beheer word bedoel die eliminering of beperking van areas waar vlieë kan uitbroei, die eliminering of beperking van onvolwasse stadia (eiers, maaiers en papies) en die optimale aanwending van geld en energie in die effektiewe beheer van volwasse vlieë. Daardeur wil ek die persepsie verander dat boere slegs dit wat gesien kan word, behandel.
Daar is drie maniere om vlieë op ‘n geïntegreerde wyse te beheer:
1) Kulturele metode – dit verwys na die beperking van broeiareas asook situasies of faktore wat vlieë lok. Vlieë soek hitte, vogtigheid en organiese produkte waar hulle kan voed en hul eiers kan lê. Nat voer en mis is ideale broeiplekke. Soek rond vir die plekke waar maaiers en papies voorkom.
2) Biologiese metodes – dit behels die gebruik van die natuurlike vyand van die vlieg in sy onvolwasse stadia. Daar is myte en kewers wat graag vliegeiers en –maaiers eet. Verskeie perdebyspesies (nie die soort wat steek nie) lê hul eiers in die vliegpapies en dit lei tot die dood van die papie. Dit is ‘n uitstekende plan om ‘n klomp van hierdie perdebye 2-3 keer per jaar in te bring. Die nadeel is net dat daar nooit genoeg perdebye, kewers of myte sal wees om die geweldige volume vlieë op ‘n melkery die hele jaar te beheer nie. Dit is onafwendbaar dat chemiese middels ook gebruik sal moet word, maar perdebye is van groot waarde indien daar dalk vlieë is wat weerstandig teen die chemiese middel raak. Biologiese metodes is duur, maar die moeite werd om te probeer – dit is presies wat ‘n geïntegreerde benadering behels, die kombinering van verskeie metodes.
3) Chemiese metodes, indien korrek aangewend, is waarskynlik die effektiefste metode om vlieggetalle te verminder. Wanneer van chemiese middels gepraat word, word nie verwys na omgewing onvriendelike organofosfate of iets soos DDT nie, maar ek verwys na moderne, veilige en effektiewe chemiese middels. Die insektemiddels kan verdeel word in middels wat volwassenes dood en middels wat maaiers dood. Vir die volwassenes word die piretroïedegroep soos sipermetrien (soos bv.Ektoban, G598 en Ectomin, G3314), deltametrien, ens. meer algemeen gebruik. Hulle werking is effektief op die diere self en op mure en plafonne. Afhangend van die seisoen en die aantal vlieë, sal die middel elke 1-2 weke aangewend moet word. Piretroïede word deur sonlig gedeaktiveer en afgebreek en daarom sal dit nodig wees om dit meer dikwels op die diere aan te wend.
Nog ‘n volwasse vlieg chemiese middel wat totaal van die voriges verskil wat samestelling betref, is thiamethoxam (bv. Agita vliegaas, L7180). Agita dood vlieë wanneer hulle dit eet of daarmee in aanraking kom. Agita is geformuleer met feromone en ‘n soet bestanddeel wat die vlieg aantrek. Hierdie vlieglokvalle kan strategies versprei word of nat gemaak en aangeverf word en is ekonomies om aan te wend. Indien ‘n geïntegreerde benadering gevolg word en ‘n insektemiddel teen onvolwasse vlieë ook toegedien word, sal die aantal volwasse vlieë merkbaar afneem en minder lokmiddel vir hulle benodig word.
‘n Insektemiddel vir onvolwasse stadiums soos siromasien (bv. Neporex, L3055) is geformuleer as korrels wat gesprinkel kan word of as ‘n poeier wat met water gemeng en gespuit word. Soos reeds genoem, behoort daar oral vir broeiplekke gesoek te word, soos by slikdamme, die kant van die kuilvoerput en enige organiese, warm, nat area. Wanneer die siromasien by hierdie plekke toegedien word, verhinder dit die maaiers om na die volgende stadium (papie) te ontwikkel deur chitienontwikkeling te voorkom. Deur op die maaierstadium te konsentreer, elimineer jy 40-60% van die vliegprobleem. Afhangend van die seisoen en die aantal vlieë, behoort siromasien elke twee weke toegedien te word, totdat die vlieggetalle merkbaar afneem. Dit sal wys wees om voor die vliegseisoen in September reeds te begin met die aanwending van insektemiddel vir onvolwasse vlieë voordat volwasse vlieë te voorskyn kom. Die ander belangrike voordeel van siromasien is dat dit ‘n minimale uitwerking op die natuurlike vyand van die vlieg, soos perdebye en voëls wat die maaiers vreet, het. Siromasien het ook geen nadelige uitwerking op visse nie.
Dit is raadsaam om met bure saam te werk in ‘n gesamentlike poging om vlieggetalle te beperk, anders kan vlieë wat na hartelus op hul eiendom uitbroei jou nog steeds toesak. Deur samewerking sal die impak wat vlieë op jul lewe en jul beursie het, drasties afneem.
Lees ook:
Geïntegreerde vliegbeheer
Oogsiektes
Oogprobleme by kleinvee en beeste
Beeste het seer oë
Koeie en kalwers se oë traan
6 Januarie 2009
6 Januarie 2010
2594 keer
gelees |
0 kommentaar