Menu

Vrotpootjie en sweerklou by kleinvee - behandeling

Vraag:

'n Veearts met internasionale ondervinding van vrotpootjie en sweerklou by skape, gee raad.

Antwoord:

Vraag:
Dr. Ariena Shepherd, jy het waardevolle ondervinding in Nieu-Seeland, asook in jou praktyk in Bergville, met vrotpootjie en sweerklou in skape opgedoen. Ek weet jy is 'n gesogte spreker oor hierdie onderwerp by boeredae. Sal jy asb. vir die kleinveeboere wat nie die geleentheid het om so 'n dag by te woon nie, 'n paar gedagtes op papier neerpen? - Dr. Faffa Malan (francois.malan@intervet.com)

Antwoord:
Deel 1
Vrotpootjie is een van die mees algemene oorsake van mankheid in skape gedurende die somermaande. In sekere areas kan dit reg deur die jaar voorkom, maar aangesien die organisme (kiem) wat dit veroorsaak 'n minimum van 10°C en 50 mm reën nodig het om te oorleef, is vrotpootjie selde 'n probleem in die winter. Die heel belangrikste om altyd eerste te doen, is om te bevestig dat vrotpootjie, veroorsaak deur die kiem Dichelobacter nodosus, die probleem is. Ander algemene oorsake van mankheid in die somer is: Bloutong, voetabsesse, aarbei vrotpootjie (veroorsaak deur die swamagtige Dermatophilus congolensis kiem), na-dip mankheid (veroorsaak deur die kiem Erisypelas rhusiopathiae) en selenium tekorte (veral lammers). In die winter is dit meestal voetabsesse, aarbei vrotpootjie, asidose (skape op lande) en laminitis (verkeerde byvoeding). Hierdie toestande en hulle behandeling word bespreek in deel 2.

Daar is 5 faktore betrokke in alle siektetoestande:
Die dier
Die omgewing
Bestuurspraktyke
Voeding
Die veroorsakende organisme.

In die voorkoming en behandeling van enige siekte moet al die faktore in ag geneem word. Met vrotpootjie moet die volgende dus ingedagte gehou word:

1.Die dier:
Ouderdom: Jong diere is meer vatbaar omrede hulle immuunstelsel swakker is.
Reproduksiestatus: Swaarder diere bv. ramme en swaar dragtige ooie is meer vatbaar.
Algemene gesondheid: Diere in 'n goeie kondisie is minder vatbaar.
Immuniteit: Inherente immuniteit wissel geweldig met party diere wat nooit siek word nie of self genees, terwyl ander elke paar weke weer probleme het of in draer diere ontwikkel.

2. Die organisme (kiem) D. nodosus:
Hou van meer as 10°C en 50 mm reën.
Word gehelp deur ander organismes wat natuurlik in die omgewing voorkom.
Kieme bestaan uit verskeie stamme (tans is daar 10 serogroepe en 18 serotipes geïdentifiseer sowel as verskillende fimbria tipes).
Genetiese transformasie kan plaasvind tussen serogroepe en tipes. Dit beteken dat een groep kan verander in 'n ander groep. Hierdie eienskap en die baie tipes wat voorkom, maak dit baie moeilik en byna onmoontlik om 'n goeie entstof te kan ontwikkel.
Die kiem kan vir 2 weke in die omgewing oorleef en vir maande in 'n draer dier.
Vrotpootjie kieme is baie aansteeklik.

3. Die omgewing:
Klammigheid en warmer temperature bevorder die groei van die organisme sowel as die vermoë om in die omgewing te oorleef. Beserings, steekgrasse, bosluisbyte en growwe oppervlaktes wat tot besering tussen die kloutjies lei maak diere ook meer vatbaar vir vrotpootjie.

4. Bestuurspraktyke:
Word bespreek onder behandeling en voorkoming.

5. Voeding:
Vitamien A en sink beïnvloed die gesondheid en integriteit van alle veldele, insluitende die spasie tussen die kloutjies en die kloutjies self. Vit A en sink behoort 2 keer per jaar toegedien te word.

Behandeling en voorkoming:
Verdeel die skape in 3 groepe: skape met geen letsels, milde letsels ( telling van minder as 2) en ernstige letsels (telling meer as 2)

 

  • Vrotpootjie kan een of meer kloutjies affekteer, maar dit is altyd net die kloutjie wat betrokke is. Die regsny van kloutjies het geen effek op behandeling of genesing nie. (Vrotpootjie letsels word volgens die tipe en verspreiding van die letsels gegradeer gewoonlik van 1 tot 4. Jou plaaslike veearts sal jou kan wys hoe om kloutjies te gradeer. Onthou om die gradering van al die kloutjies bymekaar te tel vir 'n totaal en om altyd die totaal te gebruik vir gradering.)
  • Indentifiseer alle faktore wat diere meer vatbaar maak (soos hierbo bespreek) en probeer hulle verwyder of verminder
  • Begin vroegtydig met voorkomingsmaatreëls. Die beste tyd is sodra daar meer vogtigheid teenwoordig is en die daaglikse temperatuur verhoog met ander woorde in September in die somerreënvalgebiede.
  • Diere met geen letsels kan 1 keer per maand deur 'n 10% sinksulfaat oplossing met 'n kontaktyd van 5-10 minute gaan. Tweede beste is 1.5% formalien en 'n kontak tyd van ongeveer 1 min is dan nodig.
  • Diere met milde letsels moet weekliks deur 'n 10% sinksulfaat voetbad gaan. 'n Kontak tyd van minstens 20 min is nodig.
  • Diere met erge letsels moet deur 'n 10% sinksulfaat voetbad gaan met 'n kontak tyd van minstens 30 min twee keer per week. Behandeling met 'n antibiotika en anti-inflammatoriese middel is gewoonlik ook nodig. Begin met 'n alledaagse antibiotika bv tetrasiklien (voorbeeld is Reverin 100, Intervet G2871 of Reverin LA, intervet G3442) of 'n sulfa middel (voorbeeld is Disulfox LA, Intervet G3212). Duur antibiotika sal egter nie kan vergoed vir swak bestuurspraktyke nie.
  • Begin altyd met die geen letsel groep en doen die ergste aangetaste groep laaste.
  • NB! Formalien is giftig en moet versigtig gehanteer word. Moet nooit diere met letsels deur formalien laat gaan nie want dit sal permanente velskade veroorsaak en dus jou probleem gevalle verdubbel.
  • Na die voetbad moet diere minstens 15 min op 'n droë oppervlakte deurbring. Nadat die ergste aangetaste groep behandel is, moet die staanplek eers ontsmet word voordat minder erge of onaagestaste diere daarheen gebring word.
  • Erg aangetaste groepe diere moet totaal afgesonder word van die onaangestaste en milde gevalle.
  • Indien daar erge aangetaste diere in 'n kamp geloop het, moet die kamp vir minstens 4 weke gerus word voordat ander diere weer daar wei.
  • Probeer om vleiagtige kampe te vermy in die gevaar tye.
  • Moet nooit huiwer om problemdiere uit te skot nie. Indentifiseer alle behandelde diere en hou rekord van alle behandelings: Middel, dosis en wanneer hulle behandel is. Goeie rekords help nie net met seleksie van diere nie maar ook met die keuse van antbiotika en beplanning vir die volgende maand en seisoen.
  • As dit moontlik is, moet diere wat na 'n maand nog nie herstel het nie of wat meer as drie keer in 'n seisoen behandeling moet ontvang, uitgeskot word, veral ramme. Inherente immuniteit is oorerflik en aangesien ramme 50% van die genetiese waarde bydra mag hulle nie probleemdiere wees nie.
  • Dit is belangrik om alle diere ten minste twee keer per jaar te gradeer vir vrotpootjie letsels as dit 'n problem op 'n plaas is. Dit kan saam met die pre-paring en speen ondersoek gedoen word. Streng uitskot van probleemdiere sal vinnig help om probleme te verminder aangesien inherente immuniteit teen vrotpootjie oorerflik is.

    Deel 2

    Soos bespreek in Deel 1 is vrotpootjie nie die enigste rede vir mankheid nie. Die ander mees algemene probleme is voetabsesse, aarbei vrotpootjie, bloutong, na-dip mankheid en selenium tekorte.

    Voet-absesse:
    Volg op 'n vorm van trauma (besering) -steekgras, vars brande, diere loop oor lang afstande, , bosluise wat tussen die kloutjies vasbyt en voetabsesse (sweerklou ) tot gevolg het. Bosluise wat probleme veroorsaak, is bontpootbosluise (Hyalomma truncatum en H. rufipes), bontbosluise of hartwaterbosluise (Amblyomma hebraeum) en die gladdebruin of kloutjiesbosluise (Rhipicephalus glabroscutatum en Rhipicephalus neumanni) wat veral in die valleibosveld vanaf Grahamstad tot die Weskus Nasionale Park voorkom. Voetabsesse kom meestal in swaar dragtige ooie en ramme voor. Voetabsesse affekteer gewoonlik net een poot, maar die hele poot- kloutjie, gewrig en selfs die volgende gewrig (hak of knie) kan aangetas word. 'n Sagte swelling bokant die kloutjie kan baie keer gevoel word. Absesse moet oopgesny word sodat hulle kan dreineer. Antibiotika en anti-inflammatoriese middels behoort ook toegedien word. Indien die gewrig beskadig is, moet die dier uitgeskot word.

    Voorkoming:
    Beperk enige trauma - dip teen bosluise, goeie weidingsbestuur, moenie swaar diere ver laat loop nie.

    Aarbei vrotpootjie:
    Kom gewoonlik bokant die rand van die kloutjie voor. Een of meer kloutjies kan betrokke wees. Hierdie bakterieë veroorsaak ander siektes soos harde lam, bek en oor letsels (soortgelyk aan vuilbek). Behandeling met sinksulfaat is baie effektief, maar dihidostreptomisien gekombineer met penisillien (deur veearts verkrygbaar) kan ook gebruik word.

    Bloutong
    Bloutong affekteer gewoonlik al die kloutjies. Meestal kan 'n rooilyn aan die bokant van die kloutjie waargeneem word. Daar is geen spesifieke behandeling nie. Sagte kos en water in die nabyheid van diere, skadu, anti-inflammatoriese middels en antibiotika (as diere gaan lê) kan help om verliese te beperk.

    Asidose en laminitis
    Gewoonlik is daar geen letsels aan die kloutjies nie. Verkeerde voeding is gewoonlik die oorsaak - lande met baie mieliepitte sonder 'n goeie lek, verkeerde byvoeding, 'n verkeerde proteiën energie verhouding. Behandeling behels regstel van voeding en anti-inflammatoriese middels.

    Selenium
    'n Tekort aan Selenium kan veroorsaak dat lammers mank loop en selfs gaan lê. Dit is gewoonlik die groot en vetste lammers wat eerste geaffekteer word. Geen uitwendige tekens is sigbaar nie. Behandeling is toediening van Selenium maar dikwels vat dit lank vir lammers om te herstel.

    Soos voorheen gesê is daar verskeie oorsake van mankheid. Hierdie bespreking het slegs die belangrikste punte uitgelig.

     

  • Geskryf deur dr. Ariena Shepherd (ajvrensburg@telkomsa.net) Bergville Dierkliniek.

    25 Oktober 2005

25 Oktober 2006

4841 keer gelees | 0 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 15/04/14 22/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3446c 3452c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1719c 1726c down 0.4
Skaapvleis A2/A3 4709c 4730c down 0.4
Varkvleis (gem. prys) 2132c 2119c down -0.6
Braaikuikens 1721c 1729c down 0.5

Aandele