Wat speenkalfpryse beїnvloed
Vraag:
Ek boer in die Oos-Vrystaat en dink daaraan om kalwers in te koop en te "background". Is daar enige voorspellings wat die speenkalfpryse gaan affekteer in die toekoms?
Antwoord:
“Backgrounding” is die term wat gebruik word om kalwers vir 45 -120 dae voor te berei vir afronding in ‘n voerkraal. Die ideale aankoopgewig wissel gewoonlik tussen 180 en 200 kg afhangende van die ras en hierdie kalwers word dan gevoer tot ongeveer 240 tot 260 kg. ‘n Boer wat “backgrounding” doen, kan dan besluit of hy die kalwers self gaan voer en of hy hulle aan ‘n voerkraal gaan verkoop.
Die afgelope jaar het boere wat “backgrounding” doen, redelik goed gedoen met die stelsel – veral met die styging in speenkalfpryse. Die een groot probleem met hierdie stelsel is dat die speenkalfprys die faktor is wat gewoonlik die winsgewendheid bepaal. Verder is dit baie moeilik om werklik speenkalfpryse te voorspel en ‘n mens kan slegs na tendense kyk. Selfs tendense kan varieer en onvoorsiene gebeure soos die onlangse uitbreek van bek-en-klouseer kan ‘n invloed uitoefen.
Hierdie stelsel gaan baie moeilik word in die toekoms om verskillende redes :
1) Al meer voerkrale doen dit nou self
2) Kompetisie word al groter tussen boere self
3) Voerkrale kry kontrakteurs om dit vir hulle te doen
4) Huidige droogte kan die mielieprys beïnvloed
Opsommend kan gesê word dat “backgrounding” kan werk vir ‘n nuwe toetreder mits hy sy huiswerk doen, die regte aankope teen die regte prys doen en sorg dat hy ‘n mark het vir sy produk.
13 Maart 2011
14 Maart 2011
1714 keer
gelees |
0 kommentaar