Slangbos is op groot skaal en oor ’n wye gebied weens roes aan die vrek.
Prof. Hennie Snyman, weidingkundige van die Vrystaatse Universiteit wat al jare navorsing oor dié aggressiewe indringer doen, sê die vrektes kom oor die hele indringinggebied voor.
Party bosse vrek in hul geheel en ander gedeeltelik. Slangbos was die afgelope dekade vir die verlies van duisende hektare weiding oor ’n uitgestrekte deel van die land verantwoordelik.
Snyman het die afgelope weke talle oproepe van boere ontvang wat die vrektes waargeneem het – van Arlington, Kroonstad, Thaba Nchu, Swartruggens, Ventersdorp, Heidelberg in Gauteng, Dordrecht, Zastron en Ladybrand.
Hy het plantmateriaal van besmette bosse by Thaba Nchu gaan versamel en sy plantpatoloog-kollegas, prof. Sakkie Pretorius en me. Cornel Bender, het bevestig dat die bosse swaar met ’n roesswam besmet is.
Geskryf deur: Marleen Smith
19 Januarie 2012
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)