Groot dele van Caledon is bewerk en bv. omskep in landerye en gevolglik is die natuurlike veld, veral gras, maar min. Weens mineraaltekorte en veldtoestande is daar spesies soos gemsbokke en rooihartbeeste wat glad nie goed doen in sekere dele van die Wes-Kaap nie. Ander spesies soos elande vaar weer baie goed. My opinie is dus dat daar geen rede is waarom daar nie wild in Caledon aangehou kan word nie solank die nodige bestuursaanpassings soos byvoeding en/of die omskep van landerye in weidings gemaak word.
Frans Radloff van CPUT het sy doktorale tesis gedoen op die ekologie van groter herbivore van die fynbosbioom en sy tesis word hieronder as pdf weergegee.
Sy antwoord op bg. vraag is as volg:
Daar is nie ‘n kort antwoord op die vraag nie. In prinsiep is al Renosterveldareas op die meer vrugbare skalies, wat nou koringlande is, potensieel geskik vir wild. Dit sal egter daarvan afhang van hoe die plaas nou lyk - hoeveel natuurlike veld oor is en wat met ou lande gemaak gaan word.
Dit sal sinvol wees om die eerste en laaste hoofstukke van my PhD verhandeling te lees. Tot op datum staan ek nog min of meer by my gevolgtrekkings soos vervat in die laaste afdeling.
Springbokke het nie histories hier voorgekom nie, maar niks keer jou natuurlik om hul vandag aan te hou nie.
Omheiningsvereistes sal afhang van die tipe wild wat julle beplan om aan te hou. In die Wes-Kaap word ‘n “Certificate of Adequate Enclosure (CoAE), elders bekend as ‘n “exemption certificate” deur Cape Nature uitgereik.
Om sekere spesies in die Wes-Kaap aan te hou, vereis die opstel van ‘n bestuursplan en njala, tsessebe en rooibokke word nie toegelaat nie. Meer inligting hieroor kan ook by Cape Nature verkry word.
Daar is ook persone soos Karen Esler van Bewaringsekologie wat werk met veldrestaurasie en Ken Coetzee, ‘n privaatkonsultant met baie ervaring in die Wes-Kaap wat gekontak kan word.
U kan my ook kontak by 021 808 5029/5253.
4 Februarie 2012
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)