Snotsiekte is gewoonlik ‘n virussiekte van beeste en kom so nou en dan ook in Asiatiese en Afrika buffels voor. Verwys gerus na die artikel “Skaapsnotsiekte by buffels” wat reeds op Landbouweekblad se webblad beskikbaar is. Dié artikel bevat ook inligting oor die moonlike beheer van skaapsnotsiekte by buffels.
Wat snotsiekte by rooihartbeeste betref, dui ‘n artikel van Meteyer et al, 1989 daarop dat natuurlike gevalle van snotsiekte by mak beeste en verskeie eksotiese gesplete hoefdiere, geassosieer word met die lam van sogenoemde gesonde skape, asook die kalf van diere van die subfamilie Alcelaphinae, wat wildebeeste, hartbeeste en topi insluit. ‘n Ander artikel dui daarop dat verwante gammaherpesvirusse al geïsoleer is by topi en rooihartbeeste. Volgens die inligting oor snotsiekte verkrygbaar by die OIE (Wêreld Organisasie vir Diere Gesondheid), wat in 2009 opgedateer is, is snotsiektevirus al geïsoleer by eksotiese herkouers met ‘n onbekende siektepotensiaal. Hierdie eksotiese herkouers sluit hartbeeste in. Dit wil dus voorkom asof die rol wat hartbeeste speel in snotsiekte nog nie bekend is nie.
Wat ander siektes van buffels betref, is buffels in aanhouding geneig tot die volgende 5 belangrike siektes wat voorkoming of behandeling mag benodig:
· Bek-en-klouseer
· Beestering
· Brusellose of besmetlike misgeboorte
· Buffelsiekte (Theileria parva)
· Parafilariasiekte of kneuswurm
Buffels was ook volgens ‘n artikel van Andrew et al in 1989 bewys om draers van hartwater te wees.
Buffels kan ook in tripanosomiase areas oorleef en ‘n bron van infeksie wees vir ander diere.
Buffels is ook vatbaar vir runderpes.
Verwysings:
1. Meteyer C U, Gonzales B J, Heuschele W P and Howard B D. 1989. Epidemiologic and pathologic aspects of an epizootic of malignant catarrhal fever in exotic hoofstock. Journal of Wildlife Diseases 25 (2): 280 – 286
2. Pretorius J A. 2007. Investigation of the gammaherpesvirus carrier status of black wildebeest (Connochaetes gnou). A thesis submitted in partial fulfillment of the requirements for the Masters degree in veterinary medicine (wildlife diseases) MMedVet (Fer).
4. Bothma J du P and van Rooyen N. 2005. Intensive wildlife production in southern Africa. Van Schaik Publishers, Pretoria, SA
5. Andrew H R and Norval R A I. 1989. The carrier status of sheep, cattle and African buffalo recovered from heartwater. Veterinary Parasitology 34(3): 261-266
6. Bengis R G, Kock R A and Fischer J. 2002. Infectious animal diseases: the wildlife/livestock interface. Rev. sci. tech. Off .int. Epiz. 21(1): 53-65
15 Oktober 2010