Die probleme wat kan ontstaan met die beweiding van lusern is dat die lusern onder sekere omstandighede geilsiekte en in sekere gebiede skuimopblaas kan veroorsaak. Die voorkoms van hierdie siektetoestande sal grootliks bepaal word deur die hoeveelheid lusern wat ingeneem word asook of dit die enigste beskikbare weiding wat beskikbaar is. Indien natuurlike veld ook beskikbaar is, behoort die voorkoms van hierdie metaboliese siektes minimaal te wees. Geilsiekte kan grootliks voorkom word deur hypo (natriumtiosulfaat) in die drinkwater, volgens die verskaffers se voorskrifte, te gooi.
Dit is bekend dat boerbokke glad nie of in 'n baie minder mate as skape vatbaar is vir skuimopblaas. Dit is heel waarskynlik ook die geval dat wild baie minder gevoelig sal wees vir skuimopblaas. Wildsoorte wat plante met hoë tannieninhoud vreet, sal glad nie of baie min opblaas omdat die tanniene die ingenome proteïen bind waardeur skuimopblaas grootliks beperk of selfs verhoed kan word.
Aangesien lusern hoog in kalsium is en ook dikwels in gebiede geplant word waar beide die gronde en drinkwater baie kalkryk is, is die kanse groot dat geïnduseerde spoorelementtekorte by wild kan voorkom. Spoorelementtekorte kan vererger word indien die drinkwater hoog in yster en/of swawel is. Die voer van skoon soutlekke of soutblokke kan ook spoorelementtekorte veroorsaak. Beide wild se reproduksie (lam- of kalfpersentasie) en produksie (groeitempo) kan nadelig beïnvloed word deur spoorelementtekorte. Dit is dus hoogs aan te beveel om in plaas van soutlekke of -blokke eerder 'n Voermol Fosfaatblok, wat baie hoog in spoorelemente is en voldoende sout bevat, regdeur die jaar aan die wild te voorsien. Vir produserende diere (bv. groeiend, laatdragtige en lakterende) moet addisioneel tot die lusernweiding 'n gebalanseerde wildkorrel teen 'n beperkte peil as byvoeding verskaf word om optimale wildproduksie te verseker.
10 September 2011