|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Koringbedryfsleiers is verbyster deur die laagtepunte wat die koringprys die afgelope drie maande op Safex bereik het.
In sy toespraak oor koringmarkneigings op die jaarvergadering van Graan Suid-Afrika se streek 26 en 27 op Elsenburg het een van dr. John Purchase, hoofbestuurder van Graan SA, se grafieke getoon dat die Safex-prys van Suid-Afrikaanse koring sedert einde Oktober deurlopend sowat R400 per ton laer as die invoerpariteitsprys van Amerikaanse harde rooi winterkoring is. Dit is ook R100 tot R200 per ton laer as die invoerpariteitsprys van Argentynse koring.
"Ons verstaan nie hoe Suid-Afrikaanse koring se prys onder die invoerpariteitsprys van Argentynse koring kan daal nie. Ons verstaan nie hoekom die fundamentele faktore van die mark nie werk nie," het Purchase gesê. "Gegewe ons gehalte, wat veroorsaak dat ons koring nie beter pryse behaal nie?"
Dr. Cobus le Roux, direkteur van die Landbounavorsingsraad se Instituut vir Kleingraangewasse, het gesê as gekyk word na die prestasie van die koringkultivars wat nou beskikbaar is, is dit "vreemd dat plaaslike koring nie sy regmatige plek in die mark kan vind nie".
Purchase het bygevoeg dat die graanbedryf "drastiese en dapper" besluite sal moet neem om die bemarking van koring te behartig.
Dit het op die vergadering duidelik geword dat oplossings vir koringbemarking reeds druk bespreek word in boeregeledere. Hoe uitvoerbaar die oplossings is, sal getoets moet word.
Mnr. Andries Theron van Koringberg het voorgestel dat boere in die Wes- en Suid-Kaap opnuut die konsolidasie van aanbod oorweeg en eienaarskap van hul produk terugneem.
Mnr. Henk Aggenbach van Bredasdorp het voorgestel dat Kaapse koring verder gedifferensieer word om beter bemarkingsgeleenthede vir die harder koring met 'n hoër proteïeninhoud en meelblomekstraksie te beding. Dié koring word hoofsaaklik in die Wes- en Suid-Kaap geproduseer.
Mnr. Hermanus Kitshoff van Moorreesburg het alternatiewe tot die huidige Randfontein-verhandelingspunt en Safex-silo as leweringspunt voorgestel.
Die voorstelle sal verder bespreek word op 'n koringbyeenkoms voor Graan SA se jaarlikse kongres in Maart.
Mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou, het gesê boere moet net nie oplossings soek wat strydig met vryemarkbeginsels is nie, veral in die lig daarvan dat hulle in 2005 by die nasionale grondberaad aangedring het op die behoud van vryemarkbeginsels ten opsigte van grondhervorming.
Ondersoek liggingsdifferensiaal, pleit boer
Kommer oor wat die liggingsdifferensiaal boere jaarliks kos en die skuiwergate wat dit moontlik bied vir die oortreding van belastingwette het 'n boer van Riebeek-Kasteel genoop om te vra dat Graan SA 'n regsgeleerde aanstel om die saak by die Mededingingskommissie aanhangig te maak.
In sy pleidooi om die liggingsdifferensiaal afgeskaf te kry, het mnr. Alwyn Dippenaar gesê dat dié koste-item Suid-Afrikaanse koring-, mielie- en sonneblomboere jaarliks meer as R1,6 miljard kos. Dippenaar het verder gesê Kaapse boere het verlede jaar sowat R130 miljoen verloor omdat die 450 000 ton koring wat nie na die noorde van die land "uitgevoer" word nie, ook aan die aftrekking van die liggingsdifferensiaal onderhewig is.
Sy "boere-somme" mag dalk nie presiese bedrae wees wat Kaapse boere jaarliks verbeur omdat hulle die liggingsdifferensiaal moet betaal nie, maar selfs al word die syfer gehalveer, bly dit 'n bedrag wat boere in hierdie streke kwalik kan bekostig om te verbeur.
Dippenaar het gesê hoewel daar nie belasting op toegevoegde waarde (BTW) betaal word op die 5 % van die koring wat op Safex verhandel word nie, wonder hy wat word van die BTW op die 95 % van die koring wat nié op Safex verhandel word nie. Boere, wat die liggingsdifferensiaal as 'n produksie-uitgawe beskou, ontvang geen BTW-fakture nie.
Dippenaar en mnr. Danie Koch, wat sy beskrywingspunt gesekondeer het, het gesê die aangeleentheid is dalk iets waarin die Suid-Afrikaanse Inkomstediens sal belangstel.
'n Ander tergende vraag wat Dippenaar op die tafel geplaas het, is wat van die liggingsdifferensiaal gaan word as etanolvervaardiging sodanig aan die gang kom dat daar nie meer graan oor is om uit die Kaap weg te stuur nie.
Dr. John Purchase, hoofbestuurder van Graan SA, het gesê die liggingsdifferensiaal kan oor tyd uitgefaseer word wanneer basisverhandeling plaasvind, met ander woorde wanneer die mark "meer volwasse" is.
Mnr. Louw Steytler, voorsitter van Vrystaat Landbou, het gewaarsku dat Dippenar nie eensydig na die kwessie moet kyk nie, want hoewel hy nie probleme met basisverhandeling het nie, sal alle boere dalk nie by magte wees om die basis af te dwing nie. "Die saak sal verdere debat verg."
Boere wat die vergadering bygewoon het, was nie tevrede met Purchase en Steytler se antwoorde nie en het gevra dat 'n besluit geneem word.
Daling lyk waarskynlik
Hoewel 'n dalende wêreldeindvoorraad en laer produksie tot einde verlede jaar vir hoër koringpryse gesorg het, dui vooruitskouings daarop dat die pryse vanjaar kan daal weens 'n groter aanbod.
Dit kan volgens dr. John Purchase, hoofbestuurder van Graan SA, toegeskryf word aan groter aanplantings in die voorste koringproduserende lande, soos Argentinië, Australië, Amerika, Rusland en die Oekraïene. Daar word verwag dat koringproduksie dienooreenkomstig in dié lande sal toeneem.
Die Suid-Afrikaanse koringoes van 2,162 miljoen ton in die 2006/'07-produksiejaar is beduidend groter as die 1,893 miljoen ton en 1,659 miljoen ton wat in die vorige twee jaar geoes is. Dit sal help dat Suid-Afrika vanjaar minder koring as in die vorige twee jaar hoef in te voer (850 000 ton teenoor meer as 'n miljoen ton).
Van die net meer as 'n miljoen ton koring wat in 2005/'06 ingevoer is, het sowat 389 000 ton uit Argentinië gekom, 355 000 ton uit Duitsland en sowat 117 000 ton uit Amerika. Kleiner hoeveelhede is uit die Oekraïene, Kanada, Australië en Frankryk ingevoer.
Landbouweekblad, 16 Februarie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24