|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Dit is noodsaaklik dat 'n handves vir die landbou so gou as moontlik die lig moet sien. In die afwesigheid daarvan bly dit baie moeilik om vir die toekoms planne te beraam, sê mnr. Clem Sunter, voorsitter van Anglo American se voorsittersfonds.
Hy het op 'n inligtingsdag van die kunsmismaatskappy Omnia in die Baai gesê al wat boere tans eintlik weet, is dat die Regering wil hê dat 30 % van die landbougrond teen 2014 herverdeel moet wees.
Sunter meen die spreekbuis van die georganiseerde landbou behoort meer te doen om namens die land se boere met die owerhede te onderhandel. Hy het 'n boerdery met 'n spel vergelyk waarvan die reëls in die huidige toestande nie duidelik is nie. "Ofskoon dit belangrik is dat elke boer in die land goeie verhoudinge met hul werkers handhaaf, moet hulle besef dat die Regering die rol van skeidsregter speel. Gevolglik moet die georganiseerde landbou sorg dat daar duidelike spelreëls is."
Hy het boere aangemoedig om meer strategies te dink. 'n Groep veeboere in Mpumalanga wat ná 'n strategiese beplanningsessie besluit het om eerder na wildboerdery oor te skakel, pluk vandag die soet vrugte. "Hulle slaan munt uit die feit dat hulle die Groot Vyf in 'n malariavrye gebied aan besoekers kan vertoon". Duitse toeriste stroom na die betrokke plase en betaal tot R20 000 om 'n week daar te kom uitspan.
" 'n Boer in die Vrystaat wat aanvanklik rose as stokperdjie geplant het, het dit omskep in een van die winsgewendste vertakkinge van sy boerdery. Hy voer deesdae groot besendings daarvan na Nederland uit. Hoe verder boere in die waardeketting af beweeg, hoe groter is die risiko. Die kans is egter beter om meer geld te maak."
In die vraetyd het Sunter gesê hy dink nie oliepryse sal nie weer tot die vlakke van vyf jaar gelede daal nie. Hoewel dit ook die landboubedryf erg sal raak, skep dit geleenthede. "Sou die prys van olie tot meer as $100 per vat styg, sal boere wat grondstowwe vir biobrandstof vervaardig, as 't ware in die geld rol."
Hy meen dat die huidige adjunkpresident van Suid-Afrika, me. Phumzile Mlambo-Ngcuka, waarskynlik president Thabo Mbeki sal opvolg. "As Minister van Minerale en Energie het sy haar onderskei as 'n kranige onderhandelaar om 'n handves vir die mynbedryf daar te stel," het hy gesê.
19 Mei 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24