Landbouproduksie het die afgelope paar jaar sodanig verswak dat die landbou nie meer aan die groeiende bevolking se behoeftes kan voldoen nie en Suid-Afrika sal permanent tot 'n netto invoerder van landbouprodukte verswak, sê dr. Koos Coetzee, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie.
Hy het by TLU SA se jaarkongres gesê die bevolking het tussen 1991 en 2007 met 32,2% gegroei teenoor 'n toename van slegs 10% in landbouproduksie. Dit hou ernstige gevare vir toekomstige voedselsekuriteit in en onwettige immigrante word nie eers in ag geneem nie.
Een van die redes is dat kapitaalbeleggings in die landbou in reële terme gestagneer het. "Boere sal net in nuwe kapitaalbates belê as hulle sekerheid oor die toekomstige eienaarskap daarvan het. Die huidige onsekerheid oor eiendomsreg vererger die probleem."
Nog redes is te min belegging in navorsing, stygende insetpryse, 'n rigiede arbeidsbedeling, transaksiekoste wat te hoog is en vryhandelsooreenkomste tot nadeel van plaaslike landbou. Hy sê die Regering se rol is nie om die landbou tot só 'n mate te beskerm dat dit ondoeltreffend word nie. Die Regering se rol is egter om 'n beleidsomgewing te skep waarbinne plaaslike bedrywe kan groei en ontwikkel.
Potensiaal van tuislande
Nog 'n spreker, prof. Herman van Schalkwyk van die Universiteit van die Vrystaat, het ook gewaarsku dat Suid-Afrika al hoe meer op die buiteland staatmaak om voedseltekorte aan te vul wat al meer voorkom. "Dit is nou tyd om die potensiaal van die tuislande raak te sien en te omskep in produktiewe landbougrond."
Hy sê boere sal vanjaar 30% tot 40% meer produksiekrediet nodig hê om te kan plant en daar is reeds geluide van groot afskaling in die aantal hektare wat beplan word. "Dit laat die gevaarligte flikker want landbou is ver meer belangrik as net 'n produsent van voedsel. Dit gaan ook oor politieke en maatskaplik-ekonomiese stabiliteit."
Hy sê sedert die internasionale voedselkrisis en hoë voedselpryse is daar 'n klemverskuiwing oor die belangrikheid van landbou se rol. "Daar word skerper vrae gevra oor beleid wat die sektor beïnvloed en dit is nou 'n goeie tyd vir landbou om sy saak te stel."
11 September 2008