|
|
|
| Bygewerk: | 26 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Boere is vol moed vir uitstekende landbouvooruitsigte ná deurdringende reën wat feitlik dwarsdeur Januarie vanjaar wyd in veral die somersaaigebied uitgesak het.
Op plekke is tot 500 mm gemeet en boere sê met breë glimlagte dit is moeilik om 'n droë kol te kry.
In Noordwes waar boere die afgelope vier jaar al erg deurloop onder die droogte, het die reën veral verligting gebring in die Molopo-gebied en oral in deur brandgeteisterde gebiede.
Volgens mnr. Willie Auret, hoofbestuurder van Agri Noordwes, is daar veral vreugde oor die reën in die Molopo-gebied wat waarskynlik nou vinnig sal herstel.
"Ongelukkig moes boere weens die lang droogte afskaal en slegs 20 % van die aanteelvee het oorgebly. Diere moet nou vervang word teen baie hoë pryse."
Hy voorsien nie dat meer as 40 % van die vee vervang sal kan word nie en dat dit etlike jare gaan duur voor die gebied weer op die vlak is waar dit was.
Die hele provinsie het goeie reën gehad en op plekke kom vergeling by gesaaides voor omdat boere nie in die lande kan kom om stikstof toe te dien nie. Onkruidbestryding kan ook nie toegepas word nie.
Plekke soos Klerksdorp, Lichtenburg, Mafikeng, Marico, Ottosdal, Rustenburg, Taung en Zeerust het almal meer as 100 mm reën gekry.
In Mpumalanga is dit "natter as nat". Op 'n hele paar plekke, soos Volksrust, Piet Retief, Bethal en Nelspruit, het oor die 300 mm gereën.
Die erge droogte in die Witrivier-Hazyview-omgewing en by Louw's Creek is ook gebreek met tot 150 mm reën wat daar geval het.
Volgens mnr. Willem Schmidt het die damme se situasie ook verbeter met die Da Gama-dam wat in Desember 48 % vol was en nou op amper 90 % staan.
In ander dele kry die opvanggebiede nog swaar omdat die reën nie genoeg is om die damme vol te maak nie, soos in die Lydenburg-omgewing.
Limpopo lag ook breed oor sy kwota wat op plekke, soos by Woodbush, spog met 664 mm reën in Januarie.
Gravelotte, Tzaneen, Levubu, Lephalale (Ellisras), Makhado (Louis Trichardt), Marken, Bela-Bela (Warmbad) en Thohoyandou het almal bykans of meer as 200 mm reën gehad.
Dit lyk of KwaZulu-Natal egter los voorloop met min plekke wat nog nie 100 mm reën gekry het nie.
Hoewel nie alle damme al by die reën baat gevind het nie, is die damme in die noordelike provinsies in die algemeen beter daaraan toe as verlede jaar met Gauteng se damme die volste op 81,6 %.
Vier van die Vaaldam se sluise moes reeds oopgemaak word om die watermassa te hanteer wat die dam op Sondag, 5 Februarie tot by die 100 % merk gestoot het.
Die Grootdraaidam was op 7 Februarie ook reeds 100,3 % vol en die voordeel van die oorloop het die Bloemhofdam van 9 % opgestoot tot 35 %. Die verwagting is dat dit binne twee weke meer as 50 % vol sal wees.
Damme wat reeds 100 % of meer vol is, is Buffelspoort, Roodeplaat, Klipvoor, Roodekopjes, Glen Alpine, Rust de Winter, Blyde, Klaserie, Magoebaskloof, Koppies, Sterkfontein, Saulspoort, Rooikrantz, Spioenkop en Klipfontein.
Die Thukela-, Bo-Vaal- en Laer-Oranje-waterbestuursgebiede was verlede week 100 % of meer vol met die totale gemiddeld van die land se 19 waterbestuursgebiede op 69,9 % vol.
17 Februarie 2006
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24