Die groot oomblik vir die vyf Boer soek ‘n Vrou-deelnemers het gisteraand aangebreek toe hulle blitsig die tien vroue wat hulle uit die briewe gekies het, kon ontmoet.
Die blitsafsprake van vyf minute elk het by ’n spoghotel op Stellenbosch plaasgevind.
Landbouweekblad het hulle met geskenkpakkies verras om hulle daar te verwelkom.
Soos te verwag is, het sommige se senuwees maar geknaag. Een van die groot vrae wat die boere gery het, was: Hoe groet jy die meisie? Skud jy blad? Gee jy ’n drukkie? Ook nie links nie, het Louis van Robertson laat hoor: Hierdie is die Wes-Kaap, ons soengroet sommer!
Paar pelle en 'n braai
Naas het elke vrou gevra hoe sy sou optree as hy onverwags met ’n paar pelle vir ’n braai by die huis sou opdaag. Die antwoorde het gewissel van inskiklikheid, huiwerigheid, en een vrou wat hom sommer laat verstaan het die vonke sal agterna spat!
Jasper van Hondeklipbaai het die vroue se voete onder hulle uitgeslaan deur vir elkeen ’n klein geskenkie én ’n roos te gee ná die afspraak. Met dié gebaar het hy vir hom die reputasie as die sjarmantste boer bewerkstellig.
Moeilik om te groet
Herman het ook baie goed met ‘n paar van sy vroue-keuses gekliek, maar dit was duidelik nie vir hom ’n maklike taak om ’n paar van die vroue te groet aan die einde van die episode nie.
Een van die hoogtepunte in die program was egter toe André se voete onder hom uitgeslaan word! Nie net was een van sy meisies korter as hy nie, sy rooi wange en groot glimlag het ná die afspraak getuig van wat in sy hart omgaan. Nou sal net die tyd leer of hierdie eerste indruk blywend gaan wees.
Ongelukkig moes die helfte van die vroue huis toe gestuur word, maar die ander bly agter om volgende week saam met hul droomboere aan ’n groepsaktiwiteit deel te neem. Vir die vroue sal dit nog ’n kans wees om die boere te beïndruk, want elke boer kan daarna net drie kies om by hom op die plaas te gaan kuier. Anders as in die verlede, wag daar ook ’n kinkel op die boere, die vroue én die kykers. Moet dit nie misloop nie. Donderdagaande, 20h00 op kykNET.