Herman soek nie iemand om vir hom te sorg nie, maar ‘n maat wat alles met hom kan deel.
Het jy self besluit om vir Boer soek ‘n Vrou in te skryf, of het iemand jou aangepor?
My vriende en familie het my aangemoedig om dit te doen. Hulle het gedink ek is ‘n goeie kandidaat, want ek woon alleen op die plaas. Ek is nou baie opgewonde hieroor, en dink dit gaan ‘n lekker geleentheid wees om nuwe mense te ontmoet.
Wat is so lekker aan die boerdery dat jy nie langer wou praktiseer as prokureur nie?
Dit is twee verskillende wêrelde! Ek het nie op die plaas grootgeword nie, maar in die stad. My hele lewe lank wou ek egter boer, maar het nie die geleentheid gehad nie. Ek het tydens my skoolloopbaan my vakansies op die plaas by my oom-hulle deurgebring. Die plaas was al van kleins af in my bloed. My pa het grond gehad, en in 1999 het ek en hy saam begin boer. Ek kyk glad nie terug nie!
Jy het twee seuns, Ewie (12) en Danny (5). Dis seker lekker om vir hulle aan die boerdery bloot te stel. Sal jy eendag jou kinders aanmoedig om te kom boer?
Ek sal. Ek is bietjie skepties oor die politiek en dink dit is soos ‘n donker wolk wat oor ons hang. Maak nie saak hoe goed jy boer nie, ons kan niks daaraan doen nie. Maar wat die landbou self en die ekonomie betref, is ek positief. Daar is goeie vooruitsigte vir goeie boere wat hul kant bring. Die mense moet eet, ons moet net produseer.
Is jy ‘n romantiese siel?
Nee! Ek is ongelukkig nie. Vir my is dit romanties om die mooi dinge in die lewe, soos ‘n mooi sonsondergang of ‘n dier wat in die veld loop, met iemand ted eel. Ek is nie iemand wat kersligetes gaan voorberei nie. Ek hou nie van daardie vooropgestelde verwagtinge nie.
Jy is lief vir visvang. Wat is die grootste vis wat jy al inkatrol het?
Ons het grond teen die Vaaldam en ek vat gereeld my seuns soontoe. Ek is nie heeltemal ‘n papgooier nie, maar is lief vir diepsee-visvang. Ek is nie iemand wat rekords hou nie. Die grootste vis wat ek al gevang het, was ‘n haai en ek kan nie eers onthou hoe groot dit was nie. Ek is ook baie lief vir jag en gholf, en speel van ‘n nege-voorgee af.