Deur THEUNS BOTHA
25 Oktober 2012

2690 keer gelees | 7 kommentaar

Eens 'n predikantsdogter en nou 'n boer, het Madelé Ferreira met 5000 aarbeiplantjies een van die voorste verskaffers in SA geword.


Geloof en passie voer dié boerdery tot groot hoogtes. Die ergste droogte in dekades en die kwaaiste vloed in 25 jaar, het die Mooihoek-boerdery by Hankey op sy knieë gehad. Toe plant ’n eertydse predikantsdogter 5 000 aarbeiplantjies in haar kwynende roostuin. Vandag is sy een van die land se voorste verskaffers van dié vruggies.

Al was haar begeerte om met ’n boer te trou, kon die predikantsdogter Madelé Ferreira (45) haarself nie voorberei op wat op haar sou wag toe sy as jong vrou wél die knoop met ’n boer deurhak nie.

Nadat sy ’n graad in huishoudkunde op Stellenbosch verwerf het, het sy vir net meer as ’n jaar op Despatch onderwys gegee toe sy in 1991 met Johan getroud is. In daardie  stadium het hy reeds sewe jaar op die familieplaas, Mooihoek, by Hankey, geboer.

Die harde kant van boerdery
Kort ná hul troue het Madelé egter ook met die harde kant van boerdery kennis gemaak. Eers ’n droogte – die ergste in 60 jaar. Dit het broekskeur gegaan op die plaas van 40 hektaar wat net van besproeiingswater
afhanklik is. En toe, vyf jaar later, die groot vloed. Die landerye waarop die aarbeie en ander groente verbou is, het erg verspoel. 

Moedeloos ná die vloed, en ook omdat sy pa dieselfde jaar gesterf en Johan die groente-gedeelte van die boerdery oorgeneem het, het hy gemeen die aarbeie pas nie meer lekker by sy boerderyplanne in nie. Madelé het egter gesmeek dat, voordat hy die land omploeg, hy vir haar net 5 000 van die plantjies in die kwynende roostuin by die huis sal plant.

“Ek het die skoffelwerk alleen gedoen, die aarbeie geoes, in bakkies gesit en na ’n winkel op die dorp geneem. Ek het minder as ’n kat van saffraan geweet van die verbouing van aarbeie of boerdery in die algemeen.”
In daardie stadium het sy ’n tydelike onderwyspos gekry om die pot aan die kook te hou.

Toe draai die wiel. Izanne, hul dogter wat onlangs 14 geword het, het in hul lewe gekom. Madelé het van drie boeke wat in Kalifornië, Amerika, uitgegee is en oor die verbouing van aarbeie gehandel het, te hore gekom en dit bestel.

Groter en groter mark
Soos in die Bybelse gelykenis oor die vermeerdering van die brode en visse, het die mark wat sy vir haarself geskep het, net groter geword. Die 10 000 plantjies het 50 000 geword en later 200 000. Vandag staan 450 000 plantjies in netjiese rye op Mooihoek geplant.

In 2009 het die Ferreiras ’n familietrust geskep en ’n beslote koöperasie gevorm waarin Madelé die meerderheidsaandeel het.  

Benewens aarbeie voorsien die Mooihoekboerdery ook spinasie, baba-spinasie en preie aan die kettingwinkelgroepe Spar, Pick n Pay, Shoprite, Checkers en Freshmark. Saam met Johan, wat die produksiebestuurder is, en me. Charmaine Kritzinger, die administratiewe en pakhuisbestuurder, is daar 70 heeltydse werkers in diens. In die spitsseisoen styg die getal tot 120 werkers.

Van uitspan en vakansie hou, is byna nie sprake nie aangesien die kettingwinkelgroepe verwag om ses dae van elke week van die jaar van produkte voorsien te word. Mooihoek se aarbeie word tot in Durban, Johannesburg, Bloemfontein en Pietermaritzburg gelewer.

Vars produkte
Om ’n vars produk met ’n langer raklewe en die minimum hantering te verseker, word die aarbeie, soos dit op die land gepluk word, in verskillende grade gesorteer en in bakkies verpak. Daarna word dit na die pakhuis geneem waar gehaltebeheer toegepas en die betrokke kettingwinkelgroep se etiket en strepieskode op die bakkies aangebring word.

Dan word die aarbeie en verwerkte, verpakte spinasie en preie in kratte gepak, verkoel en volgens bestelling in hul eie koeltrok gepak en by die onderskeie winkelgroepe se afleweringsdepots afgelewer. Aarbeie word ook aan restaurante en padstalletjies gelewer.

As diep gelowige verwys Madelé telkens in die onderhoud hoe die Goeie Gewer die onderneming geseën het. “Ek het geen kapitaal gehad om die besigheid mee te begin nie. Soos die geld ingekom het, is alles weer in die onderneming teruggeploeg.

Waar ons jare lank die dubbelmotorhuis onder die huis as pakkamer gebruik het, staan ons op die vooraand om ’n moderne pakhuis van 875 vierkante meter in gebruik te neem. Die pakhuis wat op HACCP-standaarde geskoei is, sal ons in staat stel om meer waarde toe te voeg, soos die maak van aarbeistroop, en om die mark van bevrore aarbeie te voorsien.”

Werkverskaffing
Omdat Mooihoek so ’n groot werkverskaffer is, het Madelé die vergunning gebruik om vir geldelike hulp by die Departement van Handel en Nywerheid en die Nywerheidsontwikkelingskoöperasie aan te klop.

Sy het groot waardering vir die mense wat haar bygestaan het, in besonder dr. Gavin Linsley-Noakes van George, wat aarbeiplantjies aan die boerdery voorsien. “Danksy die revolusionêre manier waarop hy die kwekelinge in potjies verskaf, asook nuwe kultivars, kan ons die mark reeds van April af reg deur die jaar van aarbeie voorsien. Ek bestel ook saailinge van ’n kweker op Ceres.”

Sy meen die feit dat hul aarbeie in regstreekse sonlig, en nie in tonnels nie, gekweek word, gee hulle ’n voorsprong in die mark.  Madelé skryf die sukses wat sy in die sakewêreld behaal daaraan toe dat sy passievol en optimisties oor die onderneming is.

“Oor die afgelope 14 jaar het ek eienskappe in myself ontdek wat ek nie geweet het ek het nie. Aarbeie het vir my ’n nuwe wêreld oopgemaak. Vandag is ek nie bang om by ander mense aan te klop vir raad om op die hoogte van die jongste ontwikkelinge te kom nie.”


Plukkers sorteer, gradeer en verpak die aarbeie regstreeks op die land.

Wanneer ons deur die prentjiemooi aarbeilande stap om foto’s te neem, is dit opvallend met hoeveel respek die werkers teenoor haar optree. Sy ken elkeen se naam, skerts en knoop geselsies met hulle aan.

Haar deur staan oop om te luister en raad te gee as werkers persoonlike probleme het. Die werkers verdien meer as die minimum lone. Daar is ook ’n winsdeelskema waarvolgens werknemers by wyse van prestasiebonusse vergoed word.

Wanneer dit tyd word om te groet, het Madelé iets op die hart. “Jy hoef niks oor my te skryf nie. Maar as daar iets is wat jy wil neerpen, is dit dat die sukses van die Mooihoekboerdery nét aan God se genade te danke is. Dit is ongelooflik hoe ek elke dag van my lewe die Here se leiding ervaar. Ook wat die werksmense betref. Ons bid saam. Smeek Sy genade af. Ervaar die Here in die praktyk. By die ingang is ’n Amos-bordjie aangebring: Ons plaas vir Christus.

Madelé is onlangs as kategorie-wenner vir entrepreneurskap in Nedbank se Business Woman’s Association se Achievers Award aangewys.

So sê Madelé

Wat is jou sterkste eienskap as  entrepreneur?
My vermoë om te kan organiseer, my menseverhoudinge en baie sterk wil...

Watter eienskap bewonder jy die meeste in ander entrepreneurs?
Hul passie om iets uit niks te skep en die vasberadenheid om dit te maak werk. 
  
Wat was die belangrikste impak van jou onderneming op jou as mens?
Ek het eienskappe in myself ontdek wat ek nie geweet het ek het nie. Dit het my as mens laat groei en ontwikkel.

Wat laat jou voortgaan in moeilike tye?
My geloof en vasberadenheid om nie moed op te gee nie en om dit wat gunstig is, te visualiseer.

As jy in een sin aan ’n nuwe entrepreneur raad kon gee, wat sou dit wees?
Visualiseer sukses en wees bereid om baie harde, lang ure te bestee om dit te behaal.

Navrae: Madelé Ferreira, selfoon 082 292 9185, tel. 042 284 1100. E-pos: mooihoek@lantic.net.
Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Annette Slabbert

2012/10/26 03:07:00 PM

Ek het lankal al die gedagte om met aarbeie te begin boer.Aarbeie is vir my 'n besonderse plantjie.Ek weet net nie hoe nie. Nou het ek jou getuienis gelees en dit klink so wonderlik. Saam met jou Skepper en harde werk kan jy berge versit. Dankie vir jou inspirasie. Geniet die naweek.


Annetjie Botha

2012/10/28 01:04:26 AM

Wys net, waar 'n wil is, is 'n weg. En met God aan jou sy, kan jy nooit 'n fout maak nie. Dankie vir die hoogs inspirerende artikel. Sterkte Madelé met die boerdery en baie geluk met jou Nedbank-toekenning. Geniet die boerdery.


Rika Mare

2012/11/01 12:30:35 PM

Wil graag ook met aarbeie boer sodra ek Des aftree ek het net so 2 hektaar land wat ek kan gebruik en dis in die Hoeveld MPUMALANGA Machadodorp/badplaas waar kry ek boeke en kan ek plantjies bestel baie dankie Rika Mare


Ina Palm

2012/11/02 04:38:12 PM

Wil graag meer weet van aarbei verbouing. Marble Hall omgewing. Waar kan ek inligting verkry en plantjies. Ina Palm


INA CONRADIE

2013/01/21 09:51:37 AM

Goeie more, Ek bly in Nelspruit en wil graag aarbeie plant, ek wil meer weet oor waar 'n mens die plantjies kan koop en of daar 'n plaas is waar mens kan gaan opleiding kry of net goeie raad. Ons wil graag 'n gemeenskap projek begin.


Charlene Pretorius

2013/06/05 03:06:00 PM

Wat 'n fantastiese artikel! Waar kan ek asb inligting of raad bekom oor die verbouing van aarbeie? Seen vir julle.


Charlene Pretorius

2013/06/05 08:23:35 PM

Wat 'n fantastiese artikel! Waar kan ek asb inligting of raad bekom oor die verbouing van aarbeie? Seen vir julle.

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 12/06/13 19/06/13 %
Beesvleis A2/A3 2771c 2774c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1440c 1432c down -0.6
Skaapvleis A2/A3 4249c 4300c down 1.2
Varkvleis (gem. prys) 1784c 1792c down 0.4
Braaikuikens 1506c 1506c down 0

Aandele

Pricecheck Flights