Deur JAN BRAAI
31 Mei 2012
1175
keer gelees |
kommentaar
'n Heerlike brekfis-broodjie.
Hoewel sy pa soms bek-af is oor hy dag voor Kersfees verjaar, reken Jan Braai daar is ’n duidelike voordeel te bespeur.
My pa verjaar op 24 Desember, met ander woorde op Oukersdag. Met die eerste hoorslag klink dit dalk na ’n vreemde dag om op te verjaar, tot jy daaraan dink dat dit eintlik maar net so ongewoon soos enige ander datum is.
Behalwe nou vir 29 Februarie, wat natuurlik vier maal so onwaarskynlik as die res van die moontlike verjaarsdagdatums is. As jy een van die siele is wat op 29 Februarie verjaar, sê my tog as ons mekaar ooit in die regte lewe ontmoet – dan gee ek jou ’n drukkie.
Maar terug na my pa en sy Oukersdag-verjaarsdag. Vir so lank as wat ek hom ken, is my pa maar elke jaar ligweg bek-af oor sy verjaarsdagaand meestal oorskadu word deur Oukersvieringe en ons kinders se opgewondenheid oor Kersgeskenke.
Persoonlik dink ek nie om op daardie dag te verjaar is so sleg nie. Hy het immers nog nooit op sy verjaarsdag skool toe gegaan, gewerk of eksamen geskryf nie. Dit reën ook feitlik nooit op sy verjaarsdag nie, dis mos reg in die middel van die somervakansie. Die ander ding van my pa se verjaarsdag, is dat sy hele gesin altyd saam met hom by die huis is wanneer hy verjaar. Maar alles hierbo is eintlik ’n kleinigheid in vergelyking met die ware juweel.
Vir solank ek kan onthou, braai ons elke jaar op my pa se verjaarsdag – vir ontbyt. Dis een van my heel eerste herinneringe – hoe ons een oggend wakker geword het van ’n geraas in die tuin. Toe ons uitstap, staan van my ooms en my pa op die gras rondom ’n braaidrom en gesels.
Ek was nog klein en het nie geweet dat ’n mens vir ontbyt kan braai nie, want ek het nog baie min geweet. Die spyskaart is elke jaar dieselfde. Ons braai skaaprib of varkrib of altwee en eet dit saam met mieliepap. Die mieliepap is soms stywepap en soms krummelpap. Of dit nou krummel of styf is, ons eet dit met botter en suiker.
Dis immers ontbyt. Die maaltyd word afgesluk met vonkelwyn, soos gepas vir feestelike affêres van dié aard. Vanjaar gaan dinge anders wees. Want, sien, ek het nou ’n nuwe gunstelingontbyt-braaigereg.
Deesdae hou ek daarvan om klassieke braaibroodjies te maak(witbrood, kaas, tamatie, uieringe, blatjang, sout, peper, botter aan buitekant), en dan, sodra hulle perfek gebraai is, ’n gebakte eier in elkeen te sit. Ek noem dit ‘‘ontbytbraaibroodjie’’ en dit is wat my gesin op 24 Desember 2012 gaan eet.
Sê maar vir my pa (sy naam is ook Jan) as jy hom dalk in die regte lewe raakloop. Ná al die jare se tradisie wil ’n mens hom nie té veel verras op sy verjaarsdag nie.
* Jan Braai is die man agter die Nasionale Braai Dag-inisiatief op 24 September. Lees meer daaroor op www.braai.com of gesels met hom op Twitter by @janbraai.