Deur GLENNEIS KRIEL
31 Mei 2012
1039
keer gelees |
kommentaar
Jacky Goliath.
Om hard te werk, is ’n les wat dié vrou van kleins af geleer het. Dit het haar toegerus om ’n sukses van haar lewe te maak.
Van harde werk kan jy vir Jacky Goliath (38) nie veel vertel nie. Dié fyn vrou en gesamentlike eienaar van De Fynne Kwekery buite Simondium, is as die nasionale wenner van die kommersiële afdeling in die nasionale en Wes-Kaapse Vroue-entrepreneur van die Jaar-kompetisie aangewys. Jacky het grootgeword op die sendingstasie Abbotsdale in die Swartland waar daar nie lopende water was nie. As jy dus water wou hê om mee kos te maak of om in te was, moes jy dit sélf gaan haal. Daar was ook nie elektrisiteit nie. Saans moes jy jou huiswerk by kerslig doen en hout moes vir die koolstoof gekap word.
Dié ervarings het Jacky geleer om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie.
Een van haar grootste uitdagings was om haar diploma in tuinbou by die Kaapse Skiereiland se Universiteit vir Tegnologie in Bellville te doen.
"My Engels was baie swak en al my klasse is in Engels aangebied.
‘‘Verder was daar soggens net een trein van Abbotsdale na Bellville en een terug in die aand - om 17:30. Ek het binne die eerste week 5 kg verloor van al die stres.
‘‘My ouers het toe besluit dat ek eerder nader aan Bellville moet gaan bly."
By die technikon het haar pad vir die eerste keer met dié van Elton Jefthas gekruis. Hulle het later saam by die Landbounavorsingsraad (LNR) gewerk waar Jacky hoofsaaklik boegoe, heuningbos en rooibos gekweek het.
In daardie stadium was die Internasionale Landbouvereniging vir Volhoubare Agribesigheid met Natuurlike Produkte (ASNAPP) deel van die LNR.
In 1999 het dit van die LNR afgestig as 'n nie-winsgewende organisasie. Elton en Jacky het by ASNAPP aangebly.
Dit was lekker tye, maar daar was nie werksekerheid nie omdat ASNAPP van eksterne finansiering vir projekte afhanklik was.
In 2001, toe streng waterbeperkings in die Kaap gegeld het, het Elton en Jacky 'n geleentheid gesien vir die kweek van waterwysplante - Coleonema (konfettibos) Phylica en heuningbos (vleitee). Hulle kon dus die vaardighede wat hulle in hul werk gebruik, benut om hul inkomste aan te vul.
Albei het nog heeltyds by ASNAPP gewerk en deurentyd geld in die projek gestort. Hulle het begin om plantjies in Elton se agterplaas te produseer.
Die vraag het só toegeneem dat hulle in 2002 'n halwe hektaar in Kylemore moes huur om hul produksie uit te brei. Hulle het ook 'n tonnel daar opgerig.
Die grond het egter min toegang tot water gehad. Van Januarie tot Maart het die water opgedroog.
Jacky onthou hoe sy eenkeer 'n paar padwerkers desperaat gesmeek het om met hul waterkar haar watertenk net halfvol te maak.
Die werkers het al drie die tenks tot oorlopens toe gevul.
"Ek het my ma daarna gebel en so gehuil dat ek nie kon praat nie," onthou sy.
Verder het hulle gereeld met windskade gesukkel. "As die wind waai, kon nie ek of Elton slaap nie. Dan het hy my kom haal sodat ons kon gaan kyk of die tonnel veilig was.
"Ek onthou nog hoe ons een keer in die middel van die nag gespook het om 'n flappende stuk plastiek weer vas te maak.
‘‘Ek is met plastiek en ál deur die wind rondgeruk terwyl Elton probeer het om dit met sand in die grond te anker," vertel sy.
"My ouers het alles saam met ons beleef. As die wind gewaai het, het hulle altyd die volgende oggend gebel om te hoor of alles nog reg was."
Een Paasfees het twee dennebome omgeval en groot skade aan hul watertenks en 'n deel van die tonnel aangerig.
"Soms het ons baie mismoedig geword, maar wanneer ek wou tou opgooi, het Elton my bemoedig, en wanneer hy nie meer kans gesien het nie, het ek hom aangevuur."
In 2007 het hul eerste groot deurbraak gekom. Hulle het 'n kontrak vir vyf jaar gekry om 500 000 bloubessieplantjies van weefselkultuur in 'n laboratorium te kweek vir 'n boer in die Oos-Kaap. Dit het hul kontantvloei 'n groot hupstoot gegee.
Dié geleentheid het meegebring dat hulle na 'n beter perseel in Simondium kon skuif waar die bloubessies in tonnels en die fynbos buite gekweek is.
Daarna het kontrakte begin instroom. In die stadium produseer hulle op 'n kontantgrondslag pers vye, heuningbostee, wingerdplante, fynbos, appels, pere en nektariens vir verskeie organisasies.
Hulle het tans tien tonnels van 50 m by 10 m, twee skadu-gebiede van 30 m by 50 m en 'n buitegebied van omtrent 'n halwe hektaar. Hulle verskaf ook heeltyds werk aan 25 mense en 15 seisoenwerkers wat help met die verpakking van bloubessieplantjies.
Jacky spot dat die wind op Simondium net so sterk waai soos in Kylemore, maar hulle is nou al so goed gekonfyt met die tonnels dat hulle nog nie weer windskade gely het nie.
"Ja, ons kan snags weer lekker slaap."
Sy en Elton soek dringend grond en hoop dat die Regering hulle sal help om die grond te koop.
"Ons voel ons het onsself as boere bewys. Ons wil nou graag ons eie grond hê waarop ons in infrastruktuur kan belê," sê sy.
Jackie sê
Vertel so 'n bietjie meer oor jou gesin?
Ek is nie getroud nie. My ma sê ek is getroud met my werk.
Wat soek jy in 'n man?
Dit moet iemand wees wat dieselfde waardes as ek het en my werk respekteer. Hy moet nie materialisties wees nie, want ek glo daarin om vir ander mense te gee. De Fynne Kwekery is betrokke by baie kerke, skole en die gemeenskap - ek sal nie met iemand oor die weg kan kom wat 'n toe hand het nie. Ons gee nie omdat ons iets wil terughê nie, maar omdat ons voel dat ons geseën word.
Wat is die implikasies vir 'n vrou in jou beroep?
Die tuinboubedryf is 'n omgewing wat deur mans gedomineer word. Dit is harde en soms vuil werk. Jy kan nie met jou hoëhakskoene tussen die tonnels rondloop nie, maar dit beteken nie dat jy jou vroulikheid hoef in te boet nie. Ek dink mans voel in die algemeen bedreig omdat daar in hierdie tyd soveel klem gelê word op die ‘‘tyd vir die vrou''. Om dit te oorkom, moet 'n mens nie jou stempel probeer afdruk of jou sin probeer kry net omdat jy 'n vrou is nie. Dit is beter om te luister en jou mening rustig oor te dra. Só kom jy verder en verdien jy meer respek.
Wat beteken die aanwysing as nasionale wenner in die kommersiële afdeling van die nasionale en Wes-Kaapse Vroueboer van die Jaar-kompetisie vir jou?
Die geld is baie welkom en ek waardeer dit opreg dat die Wes-Kaapse departement van landbou en die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye vir ons dié platform geskep het waar vroue hul sukses aan ander vroue se sukses kan meet. Ek glo dat die kompetisie tot goeie publisiteit sal lei wat hopelik vir meer kontrakte sal sorg.