Deur ABRE J. STEYN
23 Julie 2012

928 keer gelees | 1 kommentaar

Dit is so belangrik dat ’n reis nie net ’n bestemming sal wees nie, maar ook ’n ondervinding en ’n ware belewenis.


As die trietsige wintersonnetjie in ’n gloed agter my oor die meer buite die rietskerm ondergaan, maak ek my vuurtjie onder ’n paar sekelbostakkies brand. Wanneer die vlamtongetjies begin lek om die laaste stukkies droë mopaniehout wat ons uit die suide saamgebring het, skiet klein ontploffinkies ’n vonke-sproei-reën die donker naglug in. Ek braai sommer eerder my worsie in die vlamme as om vir kole te wag, wetende dat die stormsterk nagwind spoedig hier sal wees.

Ek dink weer aan vroeër die middag toe ons hier aangekom het. Toe ’t ek hier op die pêrel-wit sand van die meer-oewer kom sit om net die sielsverkwikkende lafenis in te drink. Terwyl die son stadig na die horison afsak, het ek uitgekyk oor die stil watervlak, wat uitstrek tot waar die wydoop ruimte om my tot ’n dowwe waas vervaag, waar die horison moes wees. Dit gee aan hierdie uitsonderlike meer in Zambië sy naam – Bangweulu – “waar die water die lug ontmoet”.

Lang, lang reis


Ná die lang reis van hier tot by die Tanganjikameer en terug, was die afgematheid tot diep in my gebeente ingehamer deur meer as duisend kilometer se slaggate, slote en dongas. Dis gewis een van die moordendste roetes op aarde. Ons moes langs dié pad drie buitebande en vier binnebande weggegooi en moes die drieton-sleepwa vir 600 km in laerat-vierwiel trek. Met tye kon ons slegs teen tussen 1 km/h en 4 km/h vorder.

Jy meet dié pad nie in afstand nie, maar in tyd en ek kon skaars onthou of dit ses of agt dae en nagte geduur het. Maar bó alles meet jy dié pad in ondervinding. Daar is altyd ondervindingsjuwele op só ’n pad ‒ as jy net daarop ingestel is om dit raak te sien.

Soos die avontuur om ’n massiewe vleiland oor te steek. Om dan 250 km al langs die visueel ongerepte Luapularivier en verby talle mere, waaronder die massiewe Mweru en Wanpita, te ry en eindelik snags in die koel misreën van watervalle te slaap. Hoewel ons soms dae lank geen ander voertuig gesien het nie, het ons dikwels in die koel ure van die nag gery.

Herinneringe
Sommige nagte is ons vergesel deur tot vyftig Wimpelvlerk-naguiltjies wat, al dartelend in die gloed van ons hoofligte, ons nag lank in aflos-groepies begelei het. Dis ondervindings en herinneringe soos dié wat geld nie kan koop nie en wat my sal bybly tot lank nadat ek die uitmergelende vermoeienis van die tog vergeet het.  
 
Maar nou is dit verby . . . en ek kon by Bangweulu afsaal om te rus. Eintlik is Bangweulu ’n baie besonderse plek. Die meer vorm deel van ’n massiewe vleiland van 15 000 km² ‒ byna so groot soos Gauteng. Dit sluit die Bangweulu-moeras en vloedvlakte in, waar 35 000 endemiese swart lechwes, duisende lelkraanvoëls en rare skoenbekooievaars voorkom. Daar vloei 17 riviere in dié meer, terwyl net een, die Luapula, dit dreineer.

Die reuse-moeras dien as filter vir die sisteem en die water is so helder soos glas. Die meer sélf is nie net drie keer groter as die Gariepdam nie, maar is uitsonderlik in dié sin dat dit in die middel skaars drie meter diep is. Die enigste permanente oewer is aan die suide, by die dorpie Samfya met sy melkwit strande.

Die hellings van die ander oewers is so gering dat die water wat in die reëntyd die vloedvlakte oorstroom, in die winter tot 45 km kan terugtrek. Dit is dus ’n enorme helder, vlak meer in ’n wêreld so plat soos ’n pannekoek.

Uitsonderlike windsiklus
Uitsonderlik is ook die windsiklus van 24 uur om die meer. Die water word bedags deur sonlig deurdrenk en verhit vinnig, die lug daarbo styg op en ’n laagdruk ontstaan. In die hitte van die dag daal ’n windstilte oor alles neer en nie ’n blaartjie roer nie. Dis dán dat die water so stil raak soos olie ‒ die dynserigheid op die horison voeg hemel en aarde aaneen.

Teen die aand koel die water af en gebeur die teenoorgestelde. As die lug nou afdaal, ontstaan ’n hoogdruk wat in alle rigtings uitvloei as wind. Teen klokslag negeuur elke aand word die oewers reg rondom die meer deur ’n stormwind getref waarvan ek die gelyke nog selde gesien het. Dit woed dwarsdeur die nag en alle ligte los goed wat nie weggebêre of vasgemaak is nie, is die volgende môre weg.

Toe ek in ons tent lê en luister na die loeiende wind en die dreunende branders daarbuite, dink ek aan die volgende dag se hengel. Ek het geweet die wind sal in die oggend gaan lê en dat die strand besaai sou wees met reuse-varswaterslakke wat deur die nag sou uitspoel.

In botter gebraai is hulle heerlik, maar hulle is ook die beste aas vir die “imboa” – daai snaakse geel katvis met die groot oë en die lang tuit-snoet wat ek nog net hier gesien het. Ek het egter die volgende dag niks gevang nie. Hoewel die meer ook ’n verskeidenheid kurpersoorte en tiervis bevat, het ek nog nooit veel hier of in die Tanganjikameer gevang nie.

Visbevolking onder druk
Die groeiende menslike bevolking in Noordoos-Zambië, en die mate waarin almal staatmaak op voedsel uit al die mere en riviere, is só hoog dat die visbevolkings grootliks ineengestort het. Met kiefnette, fuike en lang treknette, gemaak van al die muskietnette wat welmenende weldoeners vir die inwoners aanry, word al die waters leeggestroop.

Wildbevolkings buite reservate bestaan ook glad nie meer nie. Dié mense het vir eeue lank net van die veld geleef en, behalwe kassawe of maniok, word omtrent geen ander gewasse hier verbou of vee aangehou nie. As al ons omswerwinge in dié gebied net ’n soektog na ’n hengelbestemming was, dan was dit ’n totale fiasko, maar gelukkig is die langpadreis vir my veel meer as die bestemming en daarom slaan plekke soos die Tanganjika-meer en Bangweulu nou nog my asem weg.

Dit was ons vierde besoek hier, waar David Livingstone se laaste reis geëindig het. Hoewel sy liggaam in die Westminster Abdy te ruste gelê is, is sy hart hier begrawe ‒ waar dit altyd was.

Geen uitgewerkte roete
Die oorsprong van die Nyl was miskien sy bestemming, maar, soos ek, was die reis ál wat hy ooit gehad het. In meer as ’n dekade se reise in Sentraal-Afrika het ons nooit ’n uitgewerkte roete of tydskedule en selde ’n bestemming gehad, en by ’n vurk in die pad het ons altyd die dowwe spore gevat.

Só het ek nie alleen die wonderlikste geheime plekke ontdek nie, maar in ’n sekere sin ook wie ek is en waaroor die lewe gaan. Ons almal het dit nodig. Dis eintlik waarom ons reis gaan en waarom agter op my broer se Land Rover geskryf staan ‘‘Tuisbly is tydmors’’.

Ons het nodig om weg te kom uit die gejaag van ons daaglikse sleurbestaan, om weer vars te kan dink oor die sin van alles. Maar die meeste mense het nooit ’n langpad-reis ervaar nie, altyd maar net ’n bestemming. Hulle jaag daarheen en hulle jaag weer terug en voor hul weet, is die lewe verby en is hulle by hul heel laaste bestemming, tussen die langboompies.

* Abré is ’n afgetrede natuurbewaringswetenskaplike.


Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Charl

2012/07/30 03:23:16 PM

Dis mos nou die lewe die. Dit is einlik 'n bietjie van 'n jammerte dat 'n mens al hoe verder moet ry om die ongerepte natuur te beleef - en is dit ook nie meer soos dit toentertyd was nie. Beskrywings soos hierdie bring dit nader na ons toe - sonder om 'n vinger te verroer (behalwe om te tik op die slutelbord!). Dankie vir die bydrae Abré.

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 14/05/13 21/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2814c 2815c down 0
Speenkalf (lewend) 1583c 1552c down -2
Skaapvleis A2/A3 4428c 4430c down 0
Varkvleis (gem. prys) 1766c 1774c down 0.5
Braaikuikens 1483c 1512c down 2

Aandele

Pricecheck Flights