Die landgoed, wat net buite Bloemfontein geleë is, bied die fees onder meer aan om belangstellendes meer te leer oor verskillendes wildsvleise en hoe om dit voor te sit.
Die fees het verlede jaar sowat 1 500 besoekers gelok, vertel mnr. Gerhard Lombard, mede-eienaar van die landgoed. Volgens Marie, sy vrou, verwag hulle dat vanjaar se besoekersgetal vir die fees wat Saterdag (9 Junie 2012) plaasgevind het, meer was.
80 geregteFeesgangers word getrakteer op 80 verskillende wildsgeregte wat met groot sorg deur Marie en haar span voorberei word. Die span werk onverpoos vir twee maande lank vandat die eerste diere geskiet is, tot en met die fees.
“Wild word geskiet (net vroulike diere of jong ramme), in die vel verouder en elke deel van die karkas word verwerk deur die De Oude Kraal-kombuis vir die wildskoskraampies. Daar is 18 wildskoskraampies, en by elkeen is vyf of sewe geregte voorberei – ongeveer 80 geregte, elkeen uniek,” vertel Marie. Bykosse het onder meer pap, sous, stampmielies en roosterkoek ingesluit.
Vanjaar se wildsgeregte het krokodil, gaargemaak met konfyt, witwyn, suurlemoen en growwe sout; blouwildebees-biefstuk met bessieroom; rooibok-biefstuk met room en rooipeper en haasboudjies met mosterd-room ingesluit.
Besoekers kry tydens die fees ook die geleentheid om ’n wye verskeidenheid van Suid-Afrikaanse wyne te proe.
SkaapresiesDie
skaapplaas het ook groot vermaak aan besoekers verskaf met sy gewilde skaapresies. Skape van die plaas word in dié resies gebruik, en besoekers kan bie op die vinnigste skaap. Super Skaap en Rambo was vanjaar se gunstelinge.
Die skape se ruiters is sagte speelgoed wat op hul rûe vasgemaak word. Die skaap wat sy ruiter in die resies verloor, word gediskwalifiseer. Die kompetisie word met die samewerking van BKB aangebied.