Deur BEN FOURIE
20 Maart 2009

3193 keer gelees | 0 kommentaar

Om die kampvuur, by wildfeeste, skietbane en waar jagters en geweerliefhebbers ook al bymekaar kom, is daar dikwels 'n groot debat oor watter kaliber die beste of die gewildste is.


Om die kampvuur, by wildfeeste, skietbane en waar jagters en geweerliefhebbers ook al bymekaar kom, is daar dikwels 'n groot debat oor watter kaliber die beste of die gewildste is. Die een glo dit is die .308 en 'n ander dink die .30-06 of die .243 is die heel gewildste.

Vir baie jare is die .30-06 wat ammunisie verkope betref, die koning van die senterslag kalibers, maar ook hy word wat totale verkope betref, ver in die skadu gestel deur die kleinboetie, maar tog ook een van die oupas van alle kalibers waar die koeël, kruit en ontsteker in een dop vervat is. Dit is die immer-gewilde .22 randslag patroontjie.

Toe ek 'n kind was, was daar bykans op elke plaas en dikwels ook in baie dorpsmense se huise 'n "groot" geweer, meestal .303 of 7x57. Hulle is gewoonlik in of agter die klerekas gebêre. Dan was daar ook die "seloen" of .22 wat sommer permanent om die hoek in die voorhuis of op die kapstok in die gang ter hand was. Sy werk was om slange, kuikendiewe, muisvoëls en alles wat verpestings was, gou van kant te maak. Ten minste een maal per jaar was sy werk ook om die vetgemaakte slagbees vir die winter te skiet.

'n Mens kon jou nie 'n plaas sonder 'n .22 indink nie. Seuns het sommer vroeg-vroeg vanaf 'n windbuks na 'n .22 gepromoveer en dit was dié geweertjie waarmee hulle werklik leer skiet het. Baie pa's het vyf patroontjies uitgetel en na die dag moes jy presies verslag kom doen oor elke skoot.

Pragtige Mausertjies
Die .22's wat ek kan onthou, het gewissel vanaf pragtige Mausertjies wat 'n amper presiese replika van hulle groter broers was, tot klein enkelskoot geweertjies, die valblok aksie BSA skyfskietgewere by die skool en selfs een of twee Winchester of Remington "repeaters" waarop die eienaars baie trots was omdat jy 'n handvol patroontjies in die lang buismagasyn onder die loop kon laai en kon aanhou sneller trek tot die magasyn leeg was. Ek besit self nog só 'n geweertjie met buismagasyn, maar net met 'n slotaksie. Jy het ook 'n Franse Unique pistool gekry met 'n bygaande lang loop en kolf sodat jou pistool gou-gou in 'n geweer omskep kon word.

Die geskiedenis van die patroontjie is baie interessant. 'n Randslagpatroon bevat natuurlik nie 'n slagdop nie, maar die ontsteekmiddel word in die rand van die patroon geplaas welke rand dan deur die slagpen getref word vanwaar die ontbranding plaasvind. Daar is natuurlik baie ander randslag kalibers, maar die .22 is die vader van hulle almal.

Die heel eerste eksperimente was blykbaar om 'n ronde loodballetjie in een van die groot voorlaaier slagdoppe van daardie tyd te druk en so 'n patroon te maak. Die naam van die oudste van die patroontjies die sogenaamde .22 BB Cap of te wel "bulleted breech cap" verwys dan juis na die slagdop met 'n koeël in. Dit is in 1845 ontwikkel vir die Flobert binnehuis skyfskiet geweertjie of soos dit bekend was "saloon rifle". Die skietsalonne was uiters gewilde sosiale bymekaarkom plekke en dit word blykbaar nog in Europa beoefen.

Dit is natuurlik ook waarom ons ou boere nommer van 'n "seloen" gepraat het as hulle na enige .22 verwys. Die patroontjie het 'n ronde loodballetjie gevuur en daar was geen kruit nie. Die onsteekmiddel was sommer ook die dryfmiddel. In 1857 word die .22 Short ontwikkel en dit is die eerste Amerikaanse patroon waar die komponente almal in een dop vervat is. Dit is ontwikkel vir die Smith & Wesson First Model rewolwer en alhoewel ons dit vandag sien as niks meer as 'n skyfskiet patroontjie nie, is dit daardie tyd ontwikkel as 'n kaliber vir selfverdediging.

Cowboys was dalk bang

Die bekendste van almal is natuurlik die .22 Long Rifle wat vandag nog in verskillende formate soos die subsoniese, standaard snelheid, hoë snelheid en die verskillende ekstra vinnige patroontjies beskikbaar is. Die mees algemene koeëlgewig is 40gr en as jy na 'n .22 patroon kyk sien jy die punt en die dop is ewe dik. Die agterste deel van die koeël is dunner as kaliberdikte om in die dop te pas en die hele koeëltjie is met smeermiddel bedek. Dra 'n paar los patrone in jou sak en gou-gou sit daar allerhande vaagseltjies en goed aan vas.

Wat kan 'n mens alles met so 'n kaliber doen? In Suid-Afrika is dit onwettig om enige wild met 'n .22 te jag. Ek ken wel iemand wat baie jare gelede op kort afstand 'n koedoe reg van voor met een skoot van 'n .22 doodgeskiet het, maar nie net is dit onwettig nie, dit is ook verskriklik onverantwoordelik.

Omdat hase en dassies ensovoorts nie oral as wild geklassifiseer word nie, sal 'n mens hulle wel met die .22 kan aandurf. Selfs op hierdie diere glo ek egter moet 'n mens nie op te 'n lang afstand probeer skiet nie sodat jy baie seker kan wees van 'n doodskoot. Dassies kan veral baie taai wees en 'n mens wil geen dier kwes en 'n stadige dood laat sterf nie.

Leer kinders skiet

Maak interessante teikens om na te skiet soos blikkies vol sand of water ('n leë blikkie wys nie so maklik as jy hom raakskiet nie), maar asseblief tog nie bottels nie. Maak fotostate van bokke en ander wild en plak dit op kartonne vas wat op verskillende afstande opgestel word. Kinders geniet sulke teikens baie meer as 'n kol op 'n papier.

Formele teikenskiet en silhoeëtskiet vereis natuurlik wapens van redelike kwaliteit, maar is 'n baie lekker skietsport vir die hele gesin. Die .22 se terugskop is so lig dat niemand gepla word nie en met die nodige oorbeskerming is ook sy knal baie sag. Dit is 'n kaliber om te geniet hetsy in 'n geweer of handwapen.

Om mee af te sluit kan ons die woorde van een van die ou grotes in die geweerwêreld aanhaal: "I would happily undertake to walk thru from Cape Town to Cairo armed with nothing but a scope-sighted .22 Rim-Fire and a powerful hand gun, and I am confident I would not go hungry." Hierdie woorde kom van Mnr. Grootkaliber homself, John "Pondoro" Taylor, een van die bekendste en mees suksesvolle grootwildjagters en juis omdat dit van hom af kom is dit groot woorde om een van die heel kleinste kalibers aan te prys.

My bron van inligting is oor die agtergrond en tegniese spesifikasies is Cartridges of the World van Frank C Barnes.

 


Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 14/05/13 21/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2814c 2815c down 0
Speenkalf (lewend) 1583c 1552c down -2
Skaapvleis A2/A3 4428c 4430c down 0
Varkvleis (gem. prys) 1766c 1774c down 0.5
Braaikuikens 1483c 1512c down 2

Aandele

Pricecheck Flights