Vanoggend toe ek halfses met die hond gaan stap, voel ek vir die eerste keer daar is so ’n effense byt in die lug en dit was skielik vir my opvallend dat dit heelwat donkerder is as ’n week of twee gelede.
Toe tref dit my soos ’n bom: Winter is op pad en my eerste jagafspraak is oor presies ses weke. Gewoonlik begin ek al vroeg in die jaar regmaak vir die jagtyd, sommer net om die lekker so ’n bietjie uit te rek, maar hierdie jaar was die program so vol dat alles maar moes wag.
Ek hoop almal het reeds hul jagplekke vir die jaar bespreek en beplan. Daar is nog jaggeleenthede oral in die land beskikbaar, maar die tyd begin nou uitloop as jy ’n plek wil kry wat jou smaak en sak pas. Soek maar in die geweer- en jagtydskrifte.
Kyk veral na die verskillende provinsies se jagtye. In die Oos-Kaap is die seisoen byvoorbeeld verkort weens die droogte in sommige gebiede. Koop ook die nodige jaglisensies vir die provinsie waar jy gaan jag of vind uit waar jy dit kan koop voor die jag begin.
Die heel eerste wat natuurlik moet aandag kry, is die geweer self. Ek sit juis met ’n dilemma dat my getroue ou 30-06 nog by die wapensmid staan. Ek het onlangs ontdek dat die rubber-skokkussing heeltemal ingegee het. Dit kom daarvan as jy die geweer op die skokkussing in die kluis laat staan pleks van op sy loop wanneer jy hom nie gebruik nie.
My kluis is ongelukkig te klein vir laasgenoemde en nou raak die kussings maar soms gedaan. Gewoonlik sit ek sommer self die nuwe kussing aan, maar die tyd het my ingehaal en daarom die besoek aan my vriendelike wapensmid. Vanweë ’n baie wye kolfagterkant, kry ons toe geen kussing wat pas nie en nou is dit naelskou dat die ekstra groot een wat bestel, is betyds sal opdaag. Dan volg my roetine om reg te maak vir die seisoen gewoonlik:
Heel eerste die geweer self. Gaan hom noukeurig na en kyk vir krakies in die hout of klein roeskolletjies op die loop en aksie. Toets of die aksieskroewe en die montering vir die teleskoop nog stewig vas is, maar oppas vir te styf draai. Goed breek maklik. Gaan na of die draagband en skakels nog goed is. ’n Skakel wat in die veld breek of uit die kolf trek, maak die lewe bitter onaangenaam.
Maak nou die geweer goed skoon. Dit is nie ’n halfuur se werk nie, maar ’n halfdag. Elke hoekie en gaatjie moet goed skoongemaak word, ook die teleskoop.
Moet nie vergeet om wanneer jy die loop skoonmaak, ook die kamer waar die patroon ingestoot word, spesiaal skoon te maak nie. Draai sommer so drie lappies om die skoonmaakstok om dit te doen. As jy nuwe patrone gelaai of gekoop het, is dit sommer nou die tyd om hulle almal en ek bedoel letterlik een vir een ’n slag deur die magasyn in die kamer in te voer om seker te maak almal pas in die kamer.
Onlangs het ek ’n vriend verkeerde raat gegee en toe hy in die Kalahari is, sukkel hy met sommige patrone wat glad nie in die kamer wil pas nie. Wees net versigtig, ongelukke gebeur wel met selfs die mees ervare skuts.
Dan volg die baie belangrike oefening op die skietbaan om seker te maak die geweer skiet nog op die plek waar jy korrel en om sommer ook weer die oog in te kry.
Herhaal dit sodra jy by die jagbestemming aankom. Niks ontmoedig jou meer in die veld as dat jy ’n skoot of twee misskiet en dan begin wonder of die geweer nie dalk uit is nie. Dan skiet jy net ál meer mis.
Volgende op my lysie is die messe wat geslyp moet word. Ek slyp sommer die saamvat-messe en die huis-messe nou reeds, want as daar een ding is wat my frustreer, is dit om met stomp messe te sukkel.
Onlangs het ek e-pos van ’n leser oor messlyp gekry en dit klink vir my hy weet waarvan hy praat. Sy naam in Neville Watson en hy woon aan die Weskus. Lesers wat dalk graag met hom kontak wil maak om oor messlyp te gesels, kan vir my e-pos stuur wat ek vir hom sal aanstuur.
Nadat die “hardeware” afgehandel is, kom die tyd vir die “sagteware”, en moenie vir my lag as ek sê dat ek lank voor die tyd reeds kyk of my ou jeans waarmee ek laas jaar deur ’n paar bosse agter ’n bok aangehardloop het, nog heel genoeg is om voor vreemde mense te dra nie.
My stewels wat ek uit die kas gegrawe het waar hulle verlede jaar ná die laaste jagdag ingeprop is, lyk aaklig toe ek hulle uithaal. Hier by die kus het ons maar ’n probleem en my arme ou stewels was wit van die muf. Dit het harde werk gekos om reg te kry.
Kyk sommer ook of die sole nie iewers lostrek nie en vervang daardie veter wat met die laaste vasmaakslag gebreek het. Jagbaadjies moet maar gereeld deur die wasmasjien gaan, veral as jy, soos ek, nie altyd net op die werkers staatmaak om wild te dra en op en af te laai nie. So ’n bloederige baadjie lyk dalk na ’n grootwildjagter s’n, maar as hy weer warm gedra is in die veld, ruik hy dikwels nie meer te lekker nie.
Laastens begin ek nou reeds goed, soos die klein verkykertjie, jagsakkie, patroonhouers, waterbottel en al die klein dingetjies wat ’n jagter se lewe geriefliker maak, bymekaarsit sodat die laaste aand voor die jag nie versuur word met ’n gehardloop agter verlore goed aan nie.
Ek het byvoorbeeld onlangs op die skietbaan aangekom, maar kon nie my skietstokke, wat van rondehoutjies gemaak is, lekker gebruik nie omdat die stukkie binneband wat hulle aan mekaar hou, gebreek het. So kyk maar alles goed deur. Die laaste aand voor jy op die jag vertrek, moet alles vroeg al regstaan sodat jy en jou vrou of ander geliefde lekker rustig by ’n vuurtjie kan sit.
16 April 2011