In die jongste paar maande het verskeie mediaberigte verskyn oor PMP se ontwikkeling van ’n verdere reeks jag-ammunisie, maar dat die naam nog geheim gehou word. Die jagters van Suid-Afrika het gretig gewag op die bekendmaking van die naam en uitgesien daarna om die ammunisie te bekom.
Mnr. Carel Wolhuter, uitvoerende hoof van PMP, het aangekondig dat die ontwikkeling van die nuwe reeks voltooi is. Dit sal bekend staan as “Kalahari Elite”, en sal aanvanklik uit vier kalibers bestaan, naamlik .243 Winchester, 90 grein; 25-06 Remington, 100 grein; .270 Winchester, 130 grein; en 7 mm Remington Magnum, 150 grein.
Hierdie ontwikkeling volg op die suksesvolle bekendstelling in 2008 van PMP se African Elite-reeks. Die African Elite-reeks word gelaai met die wêreldbekende Swift A-frame-koeëls wat regstreeks vanaf Swift in Amerika ingevoer word, en word vervaardig in vier kalibers, naamlik .375 H&H Magnum, .300 Winchester Magnum, 30-06 Springfield en .308 Winchester.
Mnr. JC Muller, bemarkingbestuurder by PMP, sê die African Elite-reeks is ontwikkel vir gebruik in sogenoemde bosveldgebiede, en die goeie resultate wat die reeks in hierdie omstandighede behaal het, het PMP laat besluit om ’n reeks ammunisie vir gebruik op vlaktes te ontwikkel.
PMP se Standaard-, Super- en ProAmmreeks bied waarde vir geld, en is ook gewild in die Amerikaanse en Europese markte. Tog is die behoefte geïdentifiseer vir ligter koeëltipes waarvan die koper en lood geheg is. Scirocoo II Bonded-koeëls verleen uitstekende massabehoud nadat geskiet is.
Die Scirocco II
Die Kalahari Elite-reeks word gelaai met nog ’n internasionaal bekende koeël, die Scirocco II, wat ook vanaf Swift Bullet Company in Amerika ingevoer word.
Die koeël se polimeerpunt stel uitsetting in werking en is baie presies gevorm om lugweerstand te verminder. Dit is baie akkuraat, met 2,5 keer meer uitsetting as die oorspronklike kaliber en meer as 85% se massabehoud.
Terminale werkverrigting is uitstekend. Die vaartbelynde koeël met sy besonder hoë ballistiese koëffisient maak dit moontlik om ’n baie plat trajek te handhaaf en daarom is die koeël uiters geskik vir lang afstande vanweë sy akkuraatheid.
Vanweë al die kenmerke bied die Scirocco II ongelooflike waarde. Volgens Wolhuter is die produksiebestellings nou by die fabrieke geplaas, en sal die nuwe reeks in die naderende jagtyd op handelaars se rakke verskyn.