Een van die grootste luiperds ter wêreld is in September in Namibië doodgeskiet. Talle Suid-Afrikaners en Namibiërs veroordeel dié gebeurtenis. Die luiperd was sowat 10 jaar oud, 2,2 m lank en het 82 kg geweeg.
Volgens Safari Club International, 'n internasionale liggaam vir trofeejagters, is die dier die agtste grootste trofee in sy spesie. Mnr. Brad Smith, 'n Amerikaanse jagter, het die dier op die plaas Gurub in die Khomas Hochland geskiet. Hy het die nodige permit gehad om die dier te jag.
Mnr. Gerard Erasmus, 'n professionele jagter van Sumsare Safari's, sê die luiperd was 'n probleemdier en het meer as 50 kalwers in die omgewing doodgemaak. Mnr. Giel de Kock, 'n voormalige wildbewaarder in Namibië, meen dit is tragies dat die dier geskiet is - veral vanweë sy besondere grootte.
"Kon dit nie beter bestuur word sodat toeriste die dier in sy natuurlike omgewing kon bewonder nie?" vra hy. Mnr. Quinton Martins, 'n aktivis vir dierebeskerming en projekbestuurder by die Kaapse Luiperdtrust, sê die verwydering van roofdiere uit hul natuurlike habitat weens konflik met veeboere, soos in die geval met dié luiperd, kan skadelik wees vir die roofdierbevolking.
Mnr. Ben Beytell, direkteur van Parke- en Wildbestuur in Suid-Afrika, meen weer die jag van dié dier hou geen gevaar vir sy spesie in nie.
Bron:
Allafrica
5 November 2008