Deur BEN FOURIE
12 Julie 2012

2523 keer gelees | 0 kommentaar

'Spesiale' of skaars wildsoorte is deesdae gesog onder baie jagters. Ben Fourie skryf oor dié verskynsel in die jagwêreld.


My werk, asook my groot liefde vir rondrits, neem my na baie plekke in ons land. So het ek die afgelope paar maande deur groot dele van veral die Noord-Kaap, Oos-Kaap en Vrystaat gery. Opvallend was die groot hoeveelheid wild wat ’n mens sommer so van die pad af kan sien. My vrou, wat op ’n plaas in Namibië grootgeword het, het ’n besonder fyn oog vir wild sodat ons maar min miskyk.

Ons het op verskeie plekke selfs kameelperde, sebras, gemsbokke en elande sommer vlak by die pad gesien. Die opvallendste vir my was egter die redelik baie wit en swart springbokke en selfs ’n paar wat vir my tussen die gewone kleur en swart gelyk het, so ’n bruinerige iets.

Groot geld op die spel
Artikels oor goudkleurige gemsbokke wat ek ’n jaar of wat gelede gelees het, asook artikels oor programme om bokke met besonder groot horings te teel, het my aan die dink gesit. Baie groot geld is onlangs ook vir ’n buffel met besonder groot horings betaal en sy gene sal sekerlik gebruik word om diere van trofee-gehalte te teel.

Menings daaroor is nogal verdeeld en dit is dalk goed om na enkele vrae te kyk. Die eerste vraag is sekerlik of dit eties korrek is om so  met die natuur“in te meng”. Diere met ander kleure as die normale kleur vir ’n betrokke spesie het immers afwykende gene wat daardie besondere pigmentasie veroorsaak.

’n Wit springbok sal byvoorbeeld in ’n natuurlike omgewing waar daar baie roofdiere is vanweë sy groter sigbaarheid dalk nie lank genoeg oorleef om sy gene natuurlik oor te dra nie, en al oorleef hy, is dit nog nie te sê dat ál sy lammers wel wit sal wees nie. Daarom moet baie spesifiek geselekteer word en ’n nuwe kleurvariant word “geskep” aangesien dit slegs by uitsondering in die natuur voorkom en dan in klein getalle.

Teelprogramme vir trofeejag
Die tweede vraag handel oor diere met besondere eienskappe, veral besonder groot horings, wat in teelprogramme gebruik word vir trofeejag. Ons weet dat dit in veeteelt so gedoen word. Ek onthou nog goed hoe in die bloeijare van die Karakoel na baie spesifieke eienskappe gesoek is en groot geld vir ’n uitmuntende ram betaal is.

Selfs ek kon later met skoonpa se hulp ’n mooi watersy-pelsie uitken, iets wat nie geteel is om kos te verskaf nie, maar suiwer as mode-artikel. Bogenoemde is alles goed en wel, maar wat nou van wild? Is dit nie baie kunsmatig om op ’n plaas te gaan stap en ’n pragtige buffelbul met swierige horings, wat Rowland Ward se rekordboek-lengte haal, te skiet terwyl jy weet sy vaar se naam is Vuilbek die Derde nie?

Dit is tog eienaardig dat mense so lief is om ’n onderskeid te maak tussen diere en ander lewende dinge, byvoorbeeld plante. Meer nog, ons plaas wild op ’n ander vlak. Een van my baie stokperdjies is om clivias, of boslelies, te kweek. Die opwindendste is juis om ’n nuwe kleurvariant en self ’n kruising tussen die verskillende soorte te kry.

Dié plante, wat dan ook baie hoë pryse behaal, is natuurlik die skaars nuwe soorte. Selfs as dit by mak diere kom, byvoorbeeld honde en katte, word in teelprogramme na spesifieke eienskappe en kleure en bouvorm gestreef. Waarom nie wild nie? Is baie mense se amper teensin in hierdie “vreemde” kleur bokke nie maar dalk net dat dit vreemd is nie?

Is dit onnatuurlik?
’n Mens is so gewoond aan hoe ’n springbok moet lyk, dat ’n wit of swart een vir jou onnatuurlik voorkom. Dalk is ons idee dat wild iets baie spesiaals is ook die rede dat horings wat deur selektiewe teelprogramme buitengewoon groot is vir ons nie reg klink nie.

As ons egter ál die sommetjies maak, kom ons by die punt dat jag en ook die toerismemark, waar interessante variante soos wit springbokke en besonder groot buffels ’n trekpleister is, op die ou end ’n besigheid is wat winste moet lewer. Die plase waar ’n klompie wild aangehou word vir die plesier van die eienaar en sy/haar vriende alleen, is nie hier ter sprake nie.

Uit en uit jagplase en plase wat hul inkomste uit toerisme verkry, moet as ’n besigheid bedryf word of dit sal tot niet gaan en natuurlik sal spesiale wild meer verdienste bring, net soos ’n grys Karakoelpelsie destyds baie meer werd was as ’n gewone swart een. Baie van die buitelandse jagters gee nie om of daar ’n spesiale teelprogram gebruik is om die wild te teel nie en weet waarskynlik nie eers daarvan nie.

Hy of sy wil net graag iets spesiaals skiet om as ’n trofee huis toe te neem en hulle is bereid om daarvoor ook spesiale tariewe te betaal. Selfs baie van ons Suid-Afrikaanse jagters is bereid om baie meer te betaal vir die kans om ’n spesiale bok te skiet. Dan begin hierdie spesiale teelprogramme met wild op kommersiële plase sin maak. Natuurlik sal dit totaal onvanpas wees in wildreservate waar die suiwerheid van die spesie juis bewaar moet word.

Gewone wild se biltong net so lekker!
Persoonlik het ek nie ’n besondere begeerte om ’n wit of ’n swart springbok te skiet nie, selfs nie eers ’n goudkleurige gemsbok nie, want ek is nie ’n trofeejagter nie. Die gewone diere bly vir my persoonlik die mooiste en almal se biltong is ewe lekker.

Ek sal liewer dieselfde bedrag geld gebruik om ’n wildsoort wat ek nog nooit geskiet het nie, te gaan jag. Tog kan ek insien dat dit vir baie jagters ’n groot aantrekkingskrag kan hê, net soos dit vir my interessant is om iets te jag wat ek nog nooit tevore geskiet het nie. As ek egter baie eerlik moet wees, sal ’n kop-en-skof-montering van die ram op die foto darem pragtig lyk teen die muur in my studeerkamer!


Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/05/13 15/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2790c 2794c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1594c 1583c down -0.7
Skaapvleis A2/A3 4328c 4374c down 1.1
Varkvleis (gem. prys) 1765c 1767c down 0.1
Braaikuikens 1478c 1483c down 0.3

Aandele

Pricecheck Flights