Beesvleiskerrie

Deur Arina du Plessis
8 September 2017
Soos met alle kerriegeregte, smaak hierdie een die volgende dag op sy lekkerste. Maak dus genoeg sodat daar ’n paar porsies oorbly vir nog ’n keer se eet.

■ 45 ml olie
■ 2 uie, gekap
■ 2 knoffelhuisies, gekap
■ 5 cm vars gemmer, gerasper
■ 15 ml sterk kerriepoeier
■ 10 ml borrie
■ 10 ml gemaalde koljander
■ 5 ml komynsaad
■ 2 groen brandrissies, fyn gekap
■ 1 kg beesvleisblokkies
■ 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
■ Water
■ 4 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ Vars koljanderblare, gekap
■ Tamatie, ui en komkommersalsa, om mee voor te sit

Verhit die olie en braai die uie daarin tot sag. Voeg die knoffel, gemmer, kerriepoeier, borrie, koljander, komyn en brandrissies by en braai vir ’n paar sekondes tot geurig. Voeg die vleis by en braai bruin.

Voeg die tamaties by en maak die leë tamatieblik vol water. Voeg die water ook by. Roer tot dit kookpunt bereik, draai die stoofplaat laag, bedek en prut die kerrie lank en stadig, ongeveer 1½ uur, tot die vleis amper sag is.

Voeg die aartappels by en prut verder vir nog 30 minute. (Voeg nog water by as die kerrie te droog begin lyk. Geur na smaak en roer gekapte, vars koljander deur net voor opdiening. Sit voor met rys en salsa. Lewer 6 porsies.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Teeskons met vrugte

    Hierdie klein skons het al die geure van Kersfeesgebak. Sit dit voor met botter […]

  • Okkerneut-en-heuning-skonwiel

    ’n Louwarm botterbroodjie met saggeklopte room en aarbeikonfyt is ’n immerge[…]

  • Volgraan-driekaas-panskons

    Propvol geur en vesel. Hier hoef jy nie eens skons uit te druk nie; jy bak eenvo[…]