Beetslaai met gerookte snoek

Deur Arina du Plessis
14 Maart 2017
Slaai hoef nooit vervelig of smaakloos te wees nie. Inteendeel!

Geroosterde beet
■ 600 g bababeet
■ 65 ml balsamiese asyn
■ 45 ml olyfolie
■ 10 ml heuning of donkerbruin suiker
■ Sout en vars gemaalde swartpeper

Roomkaas-en-okkerneuthappies
■ Halwe bakkie (ongeveer 100 g) ongegeurde roomkaas, verkoel
■ 50 g (ongeveer 10) okkeurneute, baie fyn gekap

■ 300 g-mengsel van baba-spinasieblare, vars basiliekruid en roket
■ 250 g gerookte snoek, vel en grate verwyder en fyn gevlok
■ 80 ml boontjiespruite

Kook die beet in ligte soutwater tot sag. Dreineer en laat afkoel. Voorverhit die oond tot 200°C.

Trek die beet se skille af (dit is nie nodig vir baie jong beet nie) en sny in wiggies. Sit die beet in ’n oondbak en sprinkel balsamiese asyn, olyfolie en heuning of bruinsuiker oor. Geur met sout en peper. Oondrooster vir ongeveer 15 minute. Skud die oondpan om seker te maak elke stukkie beet rol in die sous. Laat dit dan net so afkoel.

Rol skeppies roomkaas in die gekapte neute. Pak op ’n bord en verkoel tot benodig. Skep die gemengde blare op ’n dienbord en sprinkel die snoek en boontjiespruite oor. Skep die geroosterde beet tussen-in en rangskik die roomkaashappies bo-op. Sit die slaai voor met ’n heuning-mosterdslaaisous. Lewer 6 porsies.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels