Bloubessie-en-suurlemoentert

Deur Arina du Plessis
14 Julie 2017
Hier is nog ’n uittreksel uit Theresa de Vries se nuwe resepteboek DEEG.

Soet broskorsdeeg
■ 150 g koekmeel
■ 50 g mielieblom
■ 2,5 ml sout
■ 100 g botter of margarien
■ 40 g versiersuiker, gesif
■ Sowat 40 ml yswater
■ Eierwit vir bo-op verf

Vulsel
■ 300 g vars bloubessies of 1 blik (425 g) bloubessies, gedreineer
■ 250 ml room
■ 50 g roomkaas
■ 100 g strooisuiker
■ 40 g mielieblom
■ 5 ml gerasperde suurlemoenskil
■ 20 ml suurlemoensap
■ 2 eiers, geklits
■ 2 eiergele

Deeg: Sif die koekmeel, mielieblom en sout saam in ’n mengbak. Vryf die botter of margarien in die meelmengsel in tot dit soos fyn broodkrummels lyk. Voeg die versiersuiker by. Gebruik jou vingerpunte en meng goed deur.

Voeg die yswater bietjies-bietjies by tot die deeg bymekaarkom. Vorm die deeg in ’n bal, draai toe in kleefplastiek en plaas vir minstens 30 minute in die yskas. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer of bespuit ’n tertpan van 22-25 cm.

Rol die deeg uit tot 3 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak. Voer die pan daarmee uit. Sny die kante netjies en prik die deeg met ’n vurk. Bak blind vir 15 minute. Haal uit die oond, verwyder waspapier en verf eierwit oor die deeg op die pan se boom. Plaas vir nog 5 minute in die oond om te verseël.

Vulsel: Pak die bessies in die voorbereide tertkors. Meng die room en roomkaas saam in ’n mengbak.

Voeg die strooisuiker, mielieblom, suurlemoenskil en -sap by. Voeg die eiers en eiergele by die roommengsel en meng goed. Skep die vulsel op die bessies. Bak vir 25-30 minute of tot gaar. Lewer 8 porsies.

DEEG


In Theresa de Vries se eerste boek, DEEG, word alle soorte deeg bespreek om terte of pasteie mee te maak.

Dit is ’n besonderse boek wat al die kunsies van deeg fynkam: bestanddele, toerusting, basiese beginsels en puik resepte. Dit dek ook algemene foute wat by deeg kan voorkom en die oorsake daarvan. Word ’n bobaasbakker met hierdie boek wat selfs intimiderende deegresepte maklik maak.

Oor die skrywer: Theresa de Vries was een van die deelnemers aan Kokkedoor 1. Sedertdien bied sy landwyd kursusse aan oor deeg — met al die kunsies en wenke. As boervrou staan haar hande vir niks verkeerd nie. DEEG is by alle goeie boekwinkels beskikbaar en kos R285.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Teeskons met vrugte

    Hierdie klein skons het al die geure van Kersfeesgebak. Sit dit voor met botter […]

  • Okkerneut-en-heuning-skonwiel

    ’n Louwarm botterbroodjie met saggeklopte room en aarbeikonfyt is ’n immerge[…]

  • Volgraan-driekaas-panskons

    Propvol geur en vesel. Hier hoef jy nie eens skons uit te druk nie; jy bak eenvo[…]