Die ware Jakob-melktert

Deur Arina du Plessis
20 April 2017
Vir party melktertliefhebbers is ’n melktert sonder ’n ordentlike tertkorskraag iets onheiligs.

Die resep sluit ’n paar fyner kunsies in wat ons geleer het by ons doyenne van soetgebak, Theresa de Vries.

Hierdie resep is ’n voorsmakie uit Callie Maritz en Mari-Louis Guys se nuwe resepteboek – Die Suid-Afrikaanse Melktert-versameling.

Kors
■ 810 ml koekmeel
■ 2,5 ml sout
■ 5 ml kremetart
■ 450 g botter, baie koud
■ 250 ml yswater
■ 15 ml suurlemoensap

Vulsel
■ 1,25 liter melk
■ 250 ml suiker
■ 1 kaneelstokkie
■ 160 ml koekmeel
■ 50 ml mielieblom
■ 50 ml vlapoeier
■ 5 eiers, geskei
■ 20 g botter
■ 1 t (5 ml) vanieljegeursel
■ 1⁄2 t (2,5 ml) bakpoeier
■ fyn kaneel

Kors:
Sif die meel, sout en kremetart twee keer saam. Rasper die botter grof en deel dit in vier gelyke dele. Hou een deel uit en plaas die res in die yskas.

Gebruik twee messe en sny die een deel botter by die meelmengsel in. Sprinkel die water en suurlemoensap oor die meelmengsel en meng dit met ’n vurk tot ’n deeg vorm. Knie en vou die deeg op ’n koue werkoppervlak tot dit sag en elasties is.

Gooi die deeg 50 keer op die werkoppervlak. (Dis goeie oefening sonder om gim-geld te betaal!) Rol die deeg 6 mm dik uit op ’n werkoppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Probeer om met ligte oorhoekse hale weg van jouself te rol om die deeg so reghoekig moontlik te hou.

Tel die deeg van tyd tot tyd op om seker te maak dat dit nie vassit nie. Bedek twee derdes van die uitgerolde deeg met een deel gerasperde botter. Vou die onbedekte deel van die deeg oor die deel met die botter, en vou dan die oorblywende deel met botter oor sodat jy drie lae deeg met twee lae botter tussenin het. Gebruik ’n rolstok om die kante te seël en lug in te sluit.

Vou dan die deeg in die lengte in derdes. Draai toe in kleefplastiek en plaas in die yskas vir ten minste 1 uur tot dit goed koud is. Rol die deeg weer 6 mm dik uit, herhaal die proses met nog ’n deel botter en plaas weer in die yskas. Herhaal die proses met die laaste deel botter.

Rol die deeg weer uit en vou dit in 3-4 lae om ’n vierkant te vorm. Plaas die deeg ten minste een uur lank in die yskas. Rol die deeg 2,5-3 mm dik uit op ’n werkoppervlak wat liggies met meel bestrooi is.

Sny deegsirkels 1 cm groter as die tertbakke uit om voorsiening te maak vir inkrimping. Plaas die deeg in die tertbakke. Sny ’n ronde strook deeg so wyd soos elke tertbakrand uit. Verf dit liggies met water (maar nie tot op die kante nie) en plaas op die rande.

Verf die binnekant van die korse met liggies geklitste eierwit. Plaas die bereide tertkorse in die yskas tot benodig.

Vulsel:
Voorverhit die oond tot 200°C.

Verhit 4 koppies (1 liter) van die melk saam met die suiker en die kaneelstokkie in ’n kastrol oor matige hitte. Roer tot die suiker opgelos is en verhit tot net onder kookpunt. Hou eenkant.

Meng die meel, mielieblom en vlapoeier saam met die oorblywende koppie melk tot ’n gladde meelpap. Klits die eiergele tot skuimerig en voeg by die meelpap.

Verhit weer die melk, haal die kaneelstokkie uit en voeg die eier-en-melkpap by. Verhit stadig tot kookpunt en klits aanhoudend. Verwyder van die hitte en roer die botter en vanieljegeursel by. Klits die eierwitte saam met die bakpoeier tot stywe punte vorm. Vou die eierwitte liggies by die vla in.

Giet die vla in die bereide tertkorse. Bak vir 20-25 minute of tot goudbruin. (Bedek ná 15 minute met tinfoelie as dit te donker begin lyk.) Strooi fyn kaneel oor. Lewer 3 medium- of 2 groot terte.

Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling
Vir die boet-en-sus-kosspan Callie Maritz en Mari-Louis Guy was ’n boek oor melktert ’n droom wat waar geword het.

Vir albei is dit die bekendheid, daardie smaak-na-huis kosherinnering wat dié tert by ons almal wakker maak, wat hulle so passievol oor die onderwerp laat skryf. In hul nuutste boek, Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling, verskyn resepte vir melktert in menige gedaante – van spoggerige skilferkraagskeppings tot in-’n-kits-lagies wat blitsig in die yskas stol.

Daar is melkpoedings, piepklein melkterthappies en selfs melktert-shooters. Hulle het ook geleer dat daar op omtrent elke dorp ’n kinkel te vinde is – van Kenhardt tot in Doringbaai. En tussendeur pryk ’n paar bekendes se beste melktertresepte (want almal glo mos hul familie se melktertresep is die heel beste . . .).

Ja, daar is nie minder nie as 60 variasies op die tradisionele boere-tert in hierdie boek. As jy ’n sagte plekkie vir melktert het (en wie het dan nie?), skaf ’n eksemplaar aan vir jou boekrak. Die boek kos R280 en word deur Human & Rousseau uitgegee.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Driekaas-macaroni

    Die beste trooskos is sonder twyfel ’n bak romerige pasta met hope gesmelte ka[…]

  • Plaaskombuis 2: Beesfilet-carpaccio

    In episode 3 van Plaaskombuis 2 kuier Elma Postma by Stephan en Maretha De Kock,[…]

  • Gestopte hoenderdye

    Ek maak graag hoender op dié manier gaar. Deur vulsel onder die vel te stop, so[…]