Franse roosterbrood uit Paasbolletjies

Deur Arina du Plessis
15 Maart 2017
Die spesery van Paasbolletjies is ’n onmiskenbare herfsgeur. Boonop maak Paasbolletjies heerlike Franse roosterbrood.

Om dit makliker te maak – en ook meer prakties as jy ’n tafel vol mense moet kosgee – braai ek nie elke porsie afsonderlik in ’n pan nie, maar bak alles saam in die oond. ’n Lekker plan vir jou as jy Paasnaweek kuiergaste kry.

■ 6 Paasbolletjies, gehalveer
■ 8 eiers
■ 125 ml melk
■ 60 ml room
■ 5 ml vanieljegeursel
■ 3 ml fyn kaneel
■ 15 ml strooisuiker
■ Heuning en gekapte neute, om af te rond

Voorverhit die oond tot 160°C en smeer ’n oondbak met botter.

Pak die deurgesnyde Paasbolletjies in die voorbereide bak. Klits die eiers, melk, room, vanieljegeursel, kaneel en strooisuiker saam en giet dit egalig oor die Paasbolletjies. Laat staan vir 5 minute en draai elke Paasbolletjie om. Laat staan vir nog 5 minute en draai elke bolletjie weer om.

Bedek met foelie en laat staan vir nog 5-10 minute sodat die bolletjies die meeste van die eiermengsel absorbeer. Bak vir ongeveer 20 minute en haal dan die foelie af. Bak vir ’n verdere 10-15 minute, tot deurgaar en goudbruin.

Haal uit die oond, bedruip met heuning en sprinkel neute oor. Eet dit warm. Jy kan ook bros spekvleis hierby bedien. Lewer 6-8 porsies.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Lemoenbloeisels

    As ’n mens se botter opraak terwyl jy besig is om te bak vir ’n fotosessie, […]

  • Veselryke sjokoladekoekies

    Hierdie koekies is propvol vesel en hawermout. Ek plak dit graag met gesmelte sj[…]

  • Klapperkoekies

    Die perfekte koekies om in ’n beker rooibostee te doop.