Gemmer-en-vla-lekkerte

Deur Arina du Plessis
21 April 2017
Yskasterte is baie gewild in Suid-Afrika as gevolg van ons lang en warm somers.

En ons voorliefde vir kondensmelk kom heel moontlik uit ’n tyd toe baie van ons vakansie gehou het op klein stranddorpies, ver van alles, en kondensmelk onontbeerlik was in die koskas.

Hierdie resep is ’n voorsmakie uit Callie Maritz en Mari-Louis Guy se nuwe resepteboek – Die Suid-Afrikaanse Melktert-versameling.

■ 45 ml vlapoeier
■ 45 ml mielieblom
■ 1 eier
■ 60 ml suiker
■ 1 liter melk
■ 1 blik (385 g) kondensmelk
■ 2 pakkies (200 g elk) Gingernuts-beskuitjies, fyngedruk
■ 60 g botter, gesmelt

Meng die vlapoeier, mielieblom, eier, suiker en ’n bietjie van die melk tot ’n pasta. Verhit die res van die melk en die kondensmelk in ’n kastrol oor matige hitte.

Voeg die vlapasta by en roer tot die mengsel verdik en deurgekook is. Meng die beskuitjiekrummels en botter saam. Deel die krummelmengsel in vier gelyke dele. Skep ’n laag krummelmengsel op die boom van ’n 23 cm-tertbord en dan ’n laag vla.

Herhaal die lae tot al die krummelmengsel en vla opgebruik is, maar eindig met ’n laag van die krummelmengsel. Plaas die tert vir ongeveer 3 uur in die yskas tot gestol. Lewer 1 groot tert.

Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling
Vir die boet-en-sus-kosspan Callie Maritz en Mari-Louis Guy was ’n boek oor melktert ’n droom wat waar geword het.

Vir albei is dit die bekendheid, daardie smaak-na-huis kosherinnering wat dié tert by ons almal wakker maak, wat hulle so passievol oor die onderwerp laat skryf. In hul nuutste boek, Die Suid-Afrikaanse Melktertversameling, verskyn resepte vir melktert in menige gedaante – van spoggerige skilferkraagskeppings tot in-’n-kits-lagies wat blitsig in die yskas stol.

Daar is melkpoedings, piepklein melkterthappies en selfs melktert-shooters. Hulle het ook geleer dat daar op omtrent elke dorp ’n kinkel te vinde is – van Kenhardt tot in Doringbaai. En tussendeur pryk ’n paar bekendes se beste melktertresepte (want almal glo mos hul familie se melktertresep is die heel beste . . .).

Ja, daar is nie minder nie as 60 variasies op die tradisionele boere-tert in hierdie boek. As jy ’n sagte plekkie vir melktert het (en wie het dan nie?), skaf ’n eksemplaar aan vir jou boekrak. Die boek kos R280 en word deur Human & Rousseau uitgegee.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Driekaas-macaroni

    Die beste trooskos is sonder twyfel ’n bak romerige pasta met hope gesmelte ka[…]

  • Plaaskombuis 2: Beesfilet-carpaccio

    In episode 3 van Plaaskombuis 2 kuier Elma Postma by Stephan en Maretha De Kock,[…]

  • Gestopte hoenderdye

    Ek maak graag hoender op dié manier gaar. Deur vulsel onder die vel te stop, so[…]