Growwe peerblatjang

Deur Arina du Plessis
8 Augustus 2017
Om bederfbare produkte waarvan jy te veel het, te preserveer en vir later te bêre is ’n eeue oue gebruik wat nooit sal uitsterf nie. Hier’s ’n blatjanresep vir jou spensrak.

■ 1,5 kg ryp pere, geskil en gesnipper
■ 3 uie, fyn gekap
■ 3 Granny Smith-appels, geskil en fyn gesnipper
■ 5 cm-stuk vars gemmer, gehalveer
■ 500 ml bruin druiweasyn
■ 100 ml appelsap
■ 625 ml suiker
■ 1 kaneelstok, 3 wonderpeperkorrels, 3 kruienaeltjies en ’n takkie vars roosmaryn

Sit die pere, uie, appels en gemmer in ’n kastrol saam met die asyn, appelsap en suiker. Bind die speserye en roosmaryn in moeseliendoek toe en voeg dit ook by.

Verhit oor lae hitte, terwyl jy dit roer, tot die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en laat prut vir ongeveer 1 uur terwyl jy gereeld roer. Sodra die blatjang dik en blink is, is dit reg om te bottel.

Haal die stukke gemmer en spesery-en-kruiebondeltjie uit, skep die blatjang in gesteriliseerde flesse en verseël dadelik. Lewer 3 middelslagflesse blatjang.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels