Karoolamsboud, knoffel-en-boegoevulsel

Deur Arina du Plessis
11 Januarie 2017
’n Spesiale resep deur talentvolle sjef Mynhardt Joubert...

“Ek weet daar is seker niks nuuts onder die son nie, maar die idee van die smaak van boegoe en lam het homself kom tuismaak in my gedagtes toe ek dié spyskaart uitgewerk het. Daar is ook nie vreeslik baie verwysings op die internet nie. My opgewondenheid was groot toe ek die eerste happie neem en besef hier het iets spesiaals gebeur. Die geur van die boegoe het saggies deur die reeds krui-agtige Karoolam gekom, maar wen na my mening ’n kos-Oscar vir beste byspeler. Nadat ek die boud gaargemaak het, sit ek dit op ’n krans van roosmaryn en konfettibos (wat soos tiemie gebruik kan word) en bak dit weer vir ’n kort rukkie sodat ál daardie kruiegeure kan wakker word.” – M.J.

■ 1 groot Karoolamsboud
■ 10 huisies knoffel
■ Hand vol boegoeblare
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ Halwe hand vol geskroeide koljander
■ 1 bottel (750 ml) goeie witwyn
■ 500 ml goeie lamsaftreksel
■ 4 uie, in kwarte gesny met skil aan
■ ’n Paar takke roosmaryn en konfettibos

Voorverhit die oond tot 160°C.

Maak met ’n skerp mes diep kepe in die vleis en stop dit met die knoffel en boegoeblare. Vryf die boud goed in met sout, peper en die geskroeide koljander. Plaas in ’n diep oondskottel en gooi die wyn en aftreksel oor. Sit die uie saam in die oondskottel. Bak vir ongeveer 1½-2 uur tot die vleis baie sag is.

Haal uit en laat afkoel. Gooi die oorblywende pansouse deur ’n sif en kook af tot ongeveer 250 ml vloeistof oor is. Vleg ’n krans van roosmaryn en konfettibos en sit dit in ’n oondvaste bak. Sny die vleis in skywe en plaas dit in die middel van die krans. Gooi die pansouse oor en bak verder vir omtrent 10-12 minute om deurwarm te word. Lewer 8 porsies.


Kommentaar

Kommentaar (2) “Karoolamsboud, knoffel-en-boegoevulsel

  1. Stella
    Stella

    Ek is opsoek na wortel en pynappel koek resep wat voorheen op landbou was


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels

  • Driekaas-macaroni

    Die beste trooskos is sonder twyfel ’n bak romerige pasta met hope gesmelte ka[…]

  • Plaaskombuis 2: Beesfilet-carpaccio

    In episode 3 van Plaaskombuis 2 kuier Elma Postma by Stephan en Maretha De Kock,[…]

  • Gestopte hoenderdye

    Ek maak graag hoender op dié manier gaar. Deur vulsel onder die vel te stop, so[…]