Koejawel-en-rooskonfyt

Deur Arina du Plessis
7 Augustus 2017
’n Druppel of twee rooswater en ’n titseltjie vanielje bring die beste in die koejawels na vore.

Hierdie konfyt is hemels tussen dun lagies sponskoek, met geklopte room of op skons.

■ 10 ryp koejawels, met skil en al in stukke gesny
■ Halwe vanieljepeul, in die lengte gehalveer en saadjies uitgeskraap
■ Water
■ Suiker
■ Suurlemoensap
■ 2 ml rooswater

Pak die koejawelstukke in ’n kastrol en voeg die vanieljesaadjies en die peule by. Voeg genoeg water by om die vrugte te bedek. Verhit tot kookpunt en prut vir ongeveer 25 minute of tot die vrugte sag is.

Verwyder die vanieljepeul en gebruik ’n aartappeldrukker om die vrugte fyner te druk. Gooi die koejawelpulp in ’n groot maatbeker. Kyk hoeveel milliliter pulp in die maatbeker is en gooi dit in ’n kastrol met dieselfde hoeveelheid suiker en 15 ml vars suurlemoensap vir elke koppie (250 ml) suiker wat jy gebruik.

Verhit die mengsel stadig oor lae hitte terwyl jy aanhoudend roer tot al die suiker opgelos is. Verhit tot kookpunt en kook tot die mengsel nie meer waterig lyk nie. Dit moet stol as jy ’n bietjie op ’n koue piering skep. Roer nou die rooswater by.

Skep in gesteriliseerde flesse en verseël dadelik. Bêre op ’n koel, droë plek. Lewer sowat 750 ml konfyt.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels