Lamsblad-roosterkoekburgers

Deur Arina du Plessis
16 Mei 2017
As jy by ’n skaapboer kuier vir middagete, verwag jy om ’n lekker vleisgereg raak te loop, maar hierdie lamsblad was absoluut onverbeterlik.

Dit word eenvoudig gegeur, wat net weer bewys hoe belangrik gehalte is. As jy goeie vleis met respek behandel, het jy nie veel meer as sout en peper nodig om koningskos te maak nie.

Vleis
■ 1 groot lamsblad
■ Olyfolie
■ Sout en vars gemaalde swartpeper
■ Mosterdpoeier na smaak

Burgers
■ 10-12 vars gebakte roosterkoeke
■ Botter, vir smeer
■ 300 g blaarslaai
■ 500 ml tuisgemaakte tamatie-en-uiesalsa
■ Gepiekelde agurkies en suurroom, om mee voor te sit

Smeer die blad met olyfolie en geur oraloor met sout, swartpeper en mosterdpoeier. Plaas in ’n ketelbraai en braai vir 1½ uur oor onregstreekse kole.

Die vleis is reg as die vetlagie bo-op die blad krakerig bros en die vleis só sag is dat dit van die bladbeen afgetrek kan word. Sny die vleis in dun skywe.

Smeer die roosterkoeke met botter en maak burgers met blaarslaai, vleis, tamatie-en-uiesalsa en gepiekelde agurkies. Rond af met ’n skeppie suurroom en sit warm voor. Lewer 10-12 porsies.

Lekkernye op Lambertina
Die Benders – met 11 broers en susters – is ’n groot en gelukkige gesin van Clocolan met koesterende kostradisies. Hul dae het begin met ’n stewige Vrystaatse ontbyt. Weeksdae was vir rooivleis en Sondae vir hoender.

Om drie keer per dag vir so ’n groot gesin kos te maak, kon nie ’n grap gewees het nie. Ma Renette het egter nie net haar kinders se mae gevul nie, sy het by hulle ’n lewenslange waardering vir lekker kos gekweek. Op elke kind se verjaardag het Renette spesiaal een van haar bekende koeke gebak. Só is hul liefde vir uitstekende kos gekweek.

Vandag boer twee van die sibbe, Chris en Barbara, op die familieplaas, Lambertina, en hulle dra met trots die kostradisies van hul kinderdae voort.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels