Mexikaanse worsslaai

Deur Arina du Plessis
28 Desember 2016
Hier is een van die kosskrywer Vickie de Beer se vars idees vir ’n ontspanne somerbraai.

Dié resep is ’n uittreksel uit Rooi Rose Kuierkos deur Vickie de Beer.

■ 750 g boerewors
■ 2 mielies
■ 200 g kersietamaties, gehalveer
■ 1 rooi ui, baie fyn gekap
■ 1 avokado, in blokkies gesny
■ 6-8 klein komkommers (of ’n halwe groot komkommer), in repies gesny
■ Hand vol koljanderblare
■ Hand vol kruisementblare
■ Sout en peper na smaak
■ 45 ml olyfolie
■ Die sap van 1 lemmetjie of suurlemoen
■ Suurroom, vir opdiening
■ Lemmetjiewiggies, vir opdiening

Braai die heel, opgerolde wors en die mielies oor matige kole. Sny die mielies van die stronk af en meng met die res van die bestanddele, behalwe die olyfolie en lemmetjiesap.

Sprinkel die olyfolie en lemmetjie- of suurlemoensap oor. Skep die slaai op die rol wors en sit voor met groot lepels vol suurroom en lemmetjiewiggies. Lewer 8-10 porsies.

Vars idees en resepte vir enige kuier
Kuierkos_humanrousseaucom

“Kuier” is die woord wat ons Suid-Afrikaners se benadering tot saamwees verwoord. ’n Kuier is ’n uitnodiging om rondom lang tafels, ronde tafels, op stoepe en voor kaggels, op komberse, op grasperke of sandduine, onder koeltebome of sambrele gesellig te verkeer.

Dit is die belofte wat Vickie de Beer, bekroonde kosskrywer en kosredakteur van die tydskrif Rooi Rose, se nuwe kookboek inhou. In Kuierkos vier sy die lekkerte van saamwees en saameet met ons hartsmense. Met afdelings vir Moedersdag, Sondagmiddagete, ’n fyntee vir ouma, piekniek met pelle en ’n sop-en-brood-opskop (om maar ’n paar te noem) gee sy hope idees en smullekker resepte vir vele luilekker, uitgerekte kuiers.

Kuierkos word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R330.


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.

Verwante artikels