Deur ARINA DU PLESSIS
2 November 2012
3194
keer gelees |
kommentaar
Paptert. Foto: NEVILLE LOCKHART
Paptert is ’n eg Suid-Afrikaanse bykos vir ’n braai of sommer ’n ligte aandete op sigself.
Pap
1,5 liter warm water
90ml sagte botter
5ml gemengde, droë kruie (of droë oreganum)
500g mieliemeel
Sous
1 ui, fyngekap
15ml olie
1 groot Chorizo-wors, baie dun gesny
1-2 knoffelhuisies, baie fyngekap
1 x 410g blik gekapte tamaties
125ml water
30ml tamatiepasta
3ml sout
5ml suiker
3ml vars gemaalde swartpeper
80ml onpitte calamata-olywe, fyn gesnipper
10ml gekapte, vars oreganum
375ml gerasperde cheddarkaas
1 wiel fetakaas, fyn gekrummel
Ek het die tradisionele bestanddele so ’n bietjie aangepas. Dis ’n resep waarmee jy na hartelus kan rondspeel – gebruik waarvan jy hou saam met die tamatiesous. Gebraaide sampioene, en selfs soetrissies, is ook lekker daarin. As jy wil deftig wees, kan jy selfs die mieliemeel met polenta vervang. Ek kook nie graag met droë kruie nie, maar in dié resep werk dit goed, want as jy vars kruie sou gebruik, sal dit die mieliepap ’n effense groen kleur gee.
Voorverhit die oond tot 180 grade en smeer ’n oondbak van 30 cm x 20 cm met botter of olie. Gooi die warm water in ’n groot kastrol en voeg die helfte van die botter en die droë kruie by. Roer tot die botter gesmelt is. Gooi die mieliemeel by en klits tot glad.
Verhit oor lae hitte tot kookpunt, terwyl geroer word, en laat die pap prut tot dit gaar is. Haal van die hitte af, voeg die res van die botter by en sit die deksel op. Laat staan so tot die sous reg is.
Vir die sous: Braai die ui in die olie tot sag. Voeg die Chorizo-stukkies en knoffel by en braai vir ’n paar minute. Voeg die tamaties, water, tamatiepasta, sout, suiker, swartpeper en olywe by en verhit tot kookpunt. Prut vir ongeveer 10 minute, tot die sous geurig en afgekook is. Roer die oreganum by. Skep die helfte van die pap in die voorbereide bak en druk dit eweredig op die boom vas.
Skep die helfte van die sous oor en sprinkel die helfte van die cheddarkaas en die helfte van die fetakaas oor. Skep die res van die pap bo-op en versprei egalig. Skep die res van die sous oor en sprinkel die cheddar- en fetakaas bo-oor. Bak vir 30 minute en laat staan vir 10 minute voor die paptert bedien word. Lewer agt porsies.